Presidensie onbewus van gesprekke oor twee adjunkte

Mac Maharaj. Foto: leadershiponline.co.za

Mac Maharaj. Foto: leadershiponline.co.za

Die presidensie het Sondag gesê hy is onbewus van beweerde gesprekke oor die moontlikheid dat die land twee adjunkpresidente sal hê na vanjaar se algemene verkiesing.

“Ek is nie bewus van so bespreking nie,” het Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, gesê. Sunday Times berig dat die ANC gesprekke gehou het oor die moontlikheid van ʼn tweede adjunkpresident. Cyril Ramaphosa, adjunkpresident van die ANC, en Baleka Mbete, nasionale voorsitter van die ANC, is glo as die twee kandidate voorgestel. Mbete het aan die koerant gesê dat sy haar nominasie as parlementslid aanvaar het maar dat die ANC moet besluit waar hulle haar gaan ontplooi. “Dit is nie ʼn saak vir my oor te besluit nie. Takke van die ANC besluit watter mense gaan parlement toe. Wat daarna gebeur weet ons nie.” Ramaphosa het aan die koerant gesê hy wil nie kommentaar lewer oor sy toekoms in die politiek nie. “Die ANC besluit. Geen enkele individu in die ANC besluit wat hulle wil doen nie.” Die grondwet maak tans net voorsiening vir een adjunkpresident. Prof. George Devenish, grondwetkenner, sê ʼn grondwetlike wysiging sal goedgekeur moet word om die bepaling te verander. Jackson Mthembu en Ishmael Mnisi, woordvoerders van die ANC, was nie onmiddellik vir kommentaar beskikbaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JB ·

Die kanse is goed dat die “presidensie” die voorstel gemaak het en nou “onbewus” pleit!!! Hoe dom dink hulle is ons!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.