Presidensie spandeer glo meer as R17 mil op spyseniering

Die presidensie het die afgelope vyf jaar glo R17,9 miljoen op spyseniering spandeer.

Die Saturday Star berig dat Collins Chabane, minister in die presidensie, dit bekendgemaak het in antwoord op ʼn parlementere vraag. “Die presidensie het ʼn reeks funksies en aktiwiteite gereël wat spyseniering en vermaak benodig het, insluitend vergaderings, lekgotlas en amptelike staatsbesoeke.” Volgens die berig het die presidensie vanjaar egter baie minder spandeer in vergelyking met die vorige vyf jaar. In die 2007/2008 finansiële jaar het die presidensie glo R4,1 miljoen op spyseniering en R118 220 op vermaak spandeer. In die 2011/2012 finansiële jaar het die presidensie glo R2,7 miljoen op spyseniering en R77 698 op vermaak spandeer. Joe McGluwa, die DA se woordvoerder oor die presidensie, sê hy sal aan president Jacob Zuma skryf en hom versoek om “die presidensie se spandering op spyseniering en vermaak te vries.”

McGluwa se kommentaar kom nadat Zuma vroeër die week ‘n beroep gedoen het op uitvoerende hoofde en direkteure in die staatsdiens en privaatsektor om hul salarisverhogings en bonusse vir die volgende jaar te vries.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.