Presidensiële debat in Amerika voor die deur

Vandeesweek is die laaste week van die verkiesingsveldtogte in Amerika voor die belangrike regstreekse debatte tussen president Barack Obama en sy Republikeinse teenstander, Mitt Romney, volgende week begin.

Dan sal die Amerikaanse kiesers die geleentheid kry om die twee kandidate regstreeks met mekaar te vergelyk.

Beide kandidate wend nou vir oulaas pogings aan om die ander in so ‘n swak posisie as moontlik te laat wegspring. Romney het in Denver gesê die land kan nie nog vier jaar soos die vorige bekostig nie, en as hy die verkiesing wen, sal die nodige veranderinge in Washington aangebring word wat die Amerikaners verdien. Dit was ‘n kwalik-bedekte verwysing na Obama se verkiesingslagspreuk, “Change” waarmee kiesers in die vorige verkiesing op sleeptou geneem is.

Obama het Romney weer gekritiseer oor wat hy beskryf as ‘n ekonomie wat van bo af bedryf word.

Romney het in die jongste tyd erg deurgeloop oor private mededelings wat na die pers gelek het. Dit het sy gewildheid volgens meningspeilings negatief geraak, en selfs die Rasmussen-peilings wat gunstiger resultate vir Romney opgelewer het, laat Obama en Romney nou wipplank ry.

Hoewel Rasmussen ‘n geskiedenis van akkuraatheid het, word dit nou daarvan beskuldig dat dit “pro Republikeins” is. Onder die kritiek wat teen Rasmussen ingebring word, is dat die metodiek traag is om veranderinge te reflekteer, en dat dit selfoonnommers uitsluit om teikengroepe te identifiseer. Ander peilingsinstansies word weer daarvan beskuldig dat hulle hul teikengroepe so kies dat Demokratiese Party-ondersteuners oorverteenwoordig word.

As Rasmussen se daaglikse peilings geglo kan word, staan die twee kandidate nou presies gelyk op 46 persent van die kiesers. Die Republikeine se kiesers het egter ‘n geskiedenis dat ‘n groter persentasie wél hul kruisies gaan trek. Dié keer mag dit anders wees, omdat Romney nie entoesiasties deur die Tea Party gesteun word nie en, as Mormoon, nie entoesiasties die steun van konserwatiewe Christenlobbies geniet nie. Romney het dit probeer regstel deur die konserwatiewe Paul Ryan as vise-presidentskandidaat aan te wys. Peilings dui daarop dat Ryan en die Demokrate se vise-presidentskandidaat, Joe Bidden, ook ongeveer ewe veel steun onder die kiesers  het.

Waaroor egter min kenners verskil, is dat die samestelling van die bevolking so vinnig verander, dat Romney waarskynlik die laaste Republikeinse kandidaat is wat ‘n kans het om verkies te word voor die Republikeine drasties sal moet aanpas om nog relevant te kan bly.

Selfs die Rooihuidbevolking, nou net sowat twee persent van die bevolking, raak belangrik omdat ook hulle vinniger aanwas as die gemiddelde Amerikaanse bevolking.  Die Rooihuide neig om die Demokrate te steun, hoewel Romney se fondswerwing by die Rooihuide aansienlik suksesvoller was as sy Republikeinse voorgangers.

Nou lê die debatte voor. Romney is in ‘n paar maande deur ‘n klipharde leerskool en sal nou waarskynlik beter toegerus wees om Obama aan te durf as enkele maande gelede. Romney, as goewerneur van ‘n deelstaat Massachusetts, het min ervaring van buitelandse sake en verdediging gehad, gewoon omdat die Amerikaanse federale bedeling hierdie sake eksklusief aan die federale regering toevertrou. Romney se gebrekkige ervaring hierin het gou geblyk. Alles dui egter daarop dat dit nou vir die Amerikaanse kiesers veral oor die ekonomie handel, en wat dit betref is dit selfs moontlik dat Romney en veral Ryan, ‘n paar trappies voor Obama en Bidden is.

Maar een ding is seker: Die vonke gaan tydens die debatte spat.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Hoofnuus, Nuus, Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae