Prestasiebonus aan ‘korrupte’ munisipale bestuurder

Die bestuurder van die Ehlanzeni (Nelspruit) distriksmunisipaliteit het ʼn R140 000 prestasiebonus ontvang, ten spyte daarvan dat die Openbare Beskermer bevind het dat hy van diefstal aangekla moet word.

“Vir drie agteropeenvolgende jare het die munisipale skoon ouditverslae ontvang, en die raad het sy bonus daarop bepaal,” het Lucky Ngomane, woordvoerder van die munisipaliteit, Woensdag gesê. Beeld het berig dat Hugn Mbatha ʼn “produktiwiteitsbonus” ontvang het ten spyte van Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, se aanbevelings van twee weke gelede dat kriminele klagtes vir diefstal teen hom gelê moet word.

Ngomane sê die raad het verlede week die besluit geneem om ʼn bonus aan Mbatha uit te betaal. “Dit was ʼn geslote sessie. Ek weet nie hoe Beeld die inligting bekom het nie,” het hy gesê.

Volgens Ngomane is Madonsela se verslag vir aanbeveling na die munisipale openbarerekeningekomitee gestuur. “So ver ek weet is daar geen kriminele klagtes nie. Indien daar bewerings is, gaan dit bewerings bly totdat dit anders bewys word,” het Ngomane bygevoeg.

Madonsela het bevind dat Mbatha glo R120 000 van die munisipaliteit gesteel het. Dit was die bedrag wat oorgebly het nadat Mbatha, drie lede van die raad en twee ander munisipale beamptes in 2008 met ʼn studietoer na Italië gereis het. Madonsela het bevind dat Mbatha tydens die reis die munisipaliteit opdrag gegee het om R165 000 na die kredietkaartrekening van een van die beamptes oor te plaas, omdat die groep glo “nie van Italiaanse kos gehou het nie”.

Terug in Suid-Afrika is die oorblywende R120 000 glo uit die rekening onttrek en Mbatha het glo R20 000 aan elke lid van die groep oorhandig. Die ontvangers was glo Mbatha, voormalige burgemeester Constance Mkhonto, huidige burgemeester Letta Shongwe, voormalige raadslid Jimmy Sithole, voormalige bestuurder van gemeenskapsdienste Ernest Moukangwe en adjunkbestuurder van internasionale betrekkinge, Roy Makwakwa.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.