Pretoria-naamsverandering op ys na groot steun vir behoud van naam

Foto: Elrich Yssel/AfriForum

Foto: Elrich Yssel/AfriForum

Die Tshwane-metroraad het besluit om hulle pogings, om Pretoria se naam te verander, op ys te plaas en eers weer ná volgende jaar se verkiesing oor die saak te besin.

AfriForum het dié besluit verwelkom. Volgens dié burgerregte-organisasie is die Metroraad se besluit die gevolg daarvan dat AfriForum se veldtog ter behoud van Pretoria se naam oorweldigende steun van die publiek ontvang het. Binne enkele dae nadat AfriForum sy veldtog van stapel gestuur het, het meer as 160 000 lede van die publiek reeds per SMS hulle stem ter behoud van Pretoria se naam laat hoor deur hulle naam na 31481 te SMS. Die Metroraad het reeds enkele maande gelede in reaksie op die groot steun vir Pretoria se naam die openbaredeelnamevergaderings wat op 12 Oktober vanjaar sou plaasvind, gekanselleer.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die besluit om die naamsveranderingpogings op ys te plaas, ʼn oorwinning vir almal wat deur die sosiale media en per SMS druk op die Tshwane-metroraad geplaas het om nie voort te gaan met die naamsveranderingsproses nie. “Die Metroraad se plan om die uitslag van verlede jaar se eerste rondte openbaredeelnamevergaderings, waartydens 81% van deelnemers ten gunste van die behoud van Pretoria se naam was, te omseil, is in sy spore gestuit deur die praktiese demonstrasie van die oorweldigende steun vir Pretoria se naam,” het Kriel gesê.

Kriel het daarop gewys dat die oorwinning wat nou behaal is, nie beteken dat die stryd ter behoud van Pretoria se naam finaal gewonne is nie. Volgens hom sal AfriForum en voorstaanders van Pretoria se naam steeds op hulle hoede moet wees en aanhou om steun vir Pretoria te wys. “Dit is nodig, aangesien die ANC die proses om Pretoria se naam te verander, sal voortsit, sou hulle vermoed die steun vir Pretoria se naam begin taan,” het Kriel bygevoeg.

Volgens Kriel staan AfriForum se regspan gereed om die saak in die hof te betwis, sou die owerheid na die verkiesing steeds besluit om Pretoria se naam te verander.

AfriForum het die publiek by monde van Kriel bedank vir hulle voortgesette steun ter behoud van Pretoria se naam, “aangesien die afwering van die naamsverandering die afgelope agt en ʼn half jaar, nie moontlik sou gewees het sonder die oorweldigende steun van die publiek vir Pretoria se naam nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dewald ·

Hulle het nou al hoeveel keer probeer en misluk met al die teenstand wat hulle gekry het; wanneer gaan hulle die boodskap kry dat die mense wil dit nie hê nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.