Pretoria se naamstryd nou snelwegnuus

red pretoria naambordDie stryd ter behoud van Pretoria se naam word nou ook langs Pretoria se snelweë gevoer, nadat AfriForum advertensies op buitelug-advertensieborde langs die N1 laat plaas het. Daarop word die publiek se steun ter behoud van Pretoria se naam gewerf. Die borde lees “Red Pretoria se naam. Stem ja vir Pretoria, SMS jou naam na 31481.”

Dié advertensieborde vorm deel van AfriForum se veldtog ter behoud van Pretoria se naam, wat die afgelope Maandag van stapel gestuur is met radio-advertensies op vier van die grootste radiostasies in die gebied. AfriForum gaan ook in die komende week advertensies in die gedrukte media in Pretoria plaas waarin die publiek aangemoedig word om op 12 Oktober die Tshwane Metroraad se openbaredeelnamevergaderings oor die naamkwessie by te woon om steun vir Pretoria se naam te toon. Die tyd en plekke waar die openbare vergadering gaan plaasvind, sal ook in die advertensies aangedui word.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is 12 Oktober se openbaredeelnamevergaderings die laaste geleentheid vir Pretorianers om hulle steun vir Pretoria te wys. “AfriForum werp nou alles in die stryd en wend ʼn verskeidenheid bemarkingskanale aan om mense se steun vir Pretoria se naam te kry. Dis nou of nooit,” het Kriel gesê.

Intussen het Kriel daarop gewys dat 141 846 lede van die publiek reeds teen 12:00 vandag per SMS hulle stem ter behoud van Pretoria se naam laat hoor het. Mense is versoek om hulle stem vir Pretoria te registreer deur hulle naam na 31481 te SMS. “Die aantal SMS’e wat in die kort tydperk sedert Maandag ingestroom het, het al ons verwagtinge oortref. Dit bevestig hoe sterk die publiek oor die behoud van Pretoria se naam voel,’ het Kriel bygevoeg.

AfriForum het aangedui dat die SMS’e aan die einde van die veldtog deur ʼn toonaangewende ouditeursmaatskappy geverifieer sal word. AfriForum gaan dit aanheg by ʼn memorandum ter behoud van Pretoria se naam, wat aan die minister van kuns en kultuur oorhandig gaan word.

AfriForum se regspan staan volgens Kriel gereed om enige verandering van Pretoria se naam in die hof teen te staan, sou die owerheid nie ag slaan op die oorweldigende steun ter behoud van Pretoria se naam nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.