Pretoria se naamsverandering bespreek

Openbare vergaderings vind die naweek plaas om Pretoria se naamsverandering te bespreek.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ʼn beroep op diegene wat sterk oor die behoud van Pretoria se naam voel gedoen om openbare vergaderings rakende dié stadnaam wat die Tshwane Metroraad vir eerskomende Saterdag 6 Oktober gereël het, by te woon en hulle stem te laat hoor ter ondersteuning van Pretoria se naam. Dié vergaderings vind onder meer om 10:00 by die Pretoria-stadsaal en om 9:00 by onderskeidelik die Centurion-raadsaal en Bronkhorstspruit-sportsentrum plaas.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sal verteenwoordigers van dié burgerregte-organisasie ook elk van die vergaderings wat gehou word, bywoon om AfriForum se standpunt ter behoud van Pretoria se naam oor te dra en die vergaderings te monitor. “AfriForum sal ook tydens die vergaderings memorandums indien met redes oor hoekom Pretoria se naam nie verander moet word nie.”

In AfriForum se memorandum word onder meer aangevoer dat die naamsveranderingsproses wat tot dusver gevolg is, onregmatig is en dat daar goeie kultuurhistoriese, ekonomiese en politieke redes is waarom Pretoria as stadnaam behou moet word.

Kriel het daarop gewys dat die metroraad reeds op 7 Maart 2005 ʼn raadsbesluit geneem het om aansoek te doen om Tshwane as pleknaam te registreer, sonder dat daar vooraf enige openbare deelname oor dié besluit was. “Die huidige gespreksproses kan dus nie ʼn bona fide-openbare deelnameproses wees nie en AfriForum sal openbare vergaderings gebruik om die hierdie en ander ernstige gebrekke in die proses aan die metroraad oor te dra.”  Indien hierdie gebrekke geïgnoreer word, is AfriForum  se regspan volgens Kriel gereed om die howe te nader om enige besluit om Pretoria se naam te verander in die hof ter syde te laat stel.

AfriForum gaan ook tydens die metroraad se openbare vergaderings daarop wys dat die verandering van Pretoria se naam ʼn daad van disrespek sal wees teenoor diegene vir wie die naam Pretoria van besondere kultuurhistoriese belang is. “Die verandering van Pretoria se naam sal gesien word as ʼn daad van kulturele vandalisme wat vyandskap en polarisasie sal meebring tussen die owerheid en ʼn groot deel van die stad se inwoners,” het Kriel bygevoeg.

Volgens Kriel is dit, in die lig daarvan dat ʼn studie van die Tshwane Metroraad self bevind het dat die naamsverandering sowat R1,5-miljard kan kos, hoogs bedenklik dat só ’n blatante geldverspilling oorweeg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.