Pretoria-straatname: AfriForum wen weer in stryd

AfriForum het Donderdag ʼn tweede veldslag in die stryd om geskiedkundige straatname in Pretoria te red gewen. Die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria het Donderdag die Tshwane-metro se aansoek om verlof tot appèl geweier. Die hof het vroeër beslis dat die metro die ou straatname saam met die nuwes moet behou, hangende die afhandeling van ʼn hersieningsaksie wat AfriForum verlede jaar teen die metro se besluit om 25 straatname te verander, ingestel het.

Die hof het by monde van regter Bill Prinsloo gevestigde regsbeginsels, naamlik dat bevindings oor dringendheid en tussentydse hofbevele as ʼn reël nie appelleerbaar is nie, herbevestig.

Die aanvanklike bevel wat op 19 April verleen is, het bepaal dat die ou name binne 60 dae teruggesit moet word. Die name moet dus teen 19 Junie vanjaar regoor die hoofstad teruggesit word.

“Die metro het destyds daarin geslaag om binne ʼn week al die bordjies te verwyder. Hulle het nou ʼn geleentheid om te bewys dat hulle ewe vinnig gehoor kan gee aan ʼn bevel van die hooggeregshof,” het Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.