Pretoria-straatname reeds aan die verander

Foto: Verskaf

Dit blyk dat die Tshwane-metro reeds verskeie straatnaamveranderings in Pretoria aangebring het.

Genl. Louis Botha-straat in die ooste van Pretoria se naam is reeds verander na January Masilela-rylaan. Masilela is ʼn voormalige sekretaris van verdediging. Hy is in Augustus 2008 in ʼn motorongeluk oorlede naby Bronkhorstspruit. Die burgerregte organisasie, AfriForum, se regsverteenwoordiger, Willie Spies, sê die Tshwane-metro laat beslis nie op hom wag om straatname in Pretoria te verander nie. Spies sê AfriForum is besig met voorbereidings vir ʼn hofsaak waarin hy die metroraad se besluit om 25 Pretoriase straatname te verander sal beveg. Spies sê ʼn prokureursbrief is reeds deur AfriForum aan die metroraad gestuur, waarin dié raad ook versoek word om die implementering van die besluit om die 25 straatname te verander, op ys te plaas, hangende die uitslag van die voorgenome hofsaak. Spies sê AfriForum het ʼn opvolgbrief aan die metroraad gestuur en wag steeds op ʼn antwoord. Die metroraad het einde verlede maand besluit dat 25 straatname in die hoofstad sal verander.

Die Vryheidsfront Plus sê intussen daar is dringende aksie nodig om straatnaamveranderings in Pretoria stop te sit. “Die ANC is tans op ‘n oneerlike wyse besig om vinnig straatname in Pretoria te probeer verander voordat die regsproses sy loop kan neem,” het dr. Conrad Beyers, VF Plus raadslid gesê. Volgens die VF Plus het die ANC Woensdag tydens ‘n vergadering tussen die verteenwoordigers van die Tshwane metroraad en Ethekwini metroraad gesê dat straatname in Pretoria binne ses weke verander sal wees ten spyte van enige regsaksie. Die VF Plus wat ook by die vergadering verteenwoordig was, het die ANC se voorneme bevraagteken in die lig van die gebrekkige openbare konsultasieproses en ander prosesse. “Dit is nie in belang van die stad asook die land om sensitiewe sake soos naamsveranderinge op hierdie wyse te hanteer nie. Die ANC is besig om onnodiglik die stad se diverse gemeenskappe te polariseer en te vervreem” het Beyers gesê. Maroela Media wag intussen steeds op kommentaar van die Tshwane-metro.

Die volgende strate se name gaan verander word:

Walker/Charlesstraat: Justice Mahomed
Proesstraat: Johannes Ramokhoase
Duncanweg: Jan Shoba
Gen. Louis Botharylaan: January Masilela
Esselenstraat: Robert Sebukwe
Vermeulenstraat: Madiba
Schubartstraat: Sophie de Bruyn
Potgieterstraat: Kgosi Mampuru
Prinsloostraat: Sisulu
Skinnerstraat: Nana Sita
Jacob Maréstraat: Jeff Masemola
Queen Wilhelminaweg:b Florence Ribiero
Van der Waltstraat: Lillian Ngoyi
Andriesstraat: Thabo Sehume
DF Malanrylaan: Eskia Mphahlele
Hans Strijdomrylaan: Solomon Mahlangu
Mitchellstraat: Charlotte Maxeke
Schoemanstraat: Francis Baard
Zambezirylaan: Sefako Makgatho
Hendrik Verwoerdrylaan: Johan Heyns
Beatrix/Mears/Voortrekkerstraat: Steve Biko
Kerkstraat: Stanza Bopape; Helen Joseph; WF Nkomo en Elias Motswaledi
Michael Brinkweg: Nico Smith
Leah Mangope: Peter Magano
Lucas Mangope: Molefe Makinta

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.