Pretoria-straatname weer onder die loep

AfriForum het ’n dagvaardiging teen die Tshwane-metro uitgereik waarin die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria gevra word om die verandering van 27 straatname in Pretoria te hersien en tersyde te stel.

Die aksie volg nadat versoeke van AfriForum om met die burgemeester, Kgosientso Ramokgopa, in gesprek te tree oor ’n oplossing van die naamkwessie, op dowe ore geval het. AfriForum het vroeër vanjaar gepoog om ’n interdik te verkry teen die verandering van naamborde van strate hangende die afhandeling van ’n hersieningsaansoek, maar die hof het destyds beslis dat ’n reëling, wat behels dat ou straatname saam met die nuwe name op naamborde behou word tot na die afhandeling van die hersieningsproses, voldoende was.

Ramokgopa het laat verlede jaar met verskeie politieke partye asook AfriForum in gesprek getree oor die vind van ’n wen-wen-oplossing oor die naam van Pretoria en sekere straatname. Sonder om egter die gesprekke af te handel, of te reageer op voorstelle van partye, het die metroraad egter in April vanjaar voortgegaan met die verandering van 27 strate se name. Openbare verhore oor die verandering van Pretoria se naam na Tshwane is ook uit die bloute gereël, en in een stadium het die metroraad laat blyk dat hy van plan was om die naam van Pretoria “voor die ANC-leierskonferensie in Mangaung” te verander. Latere berigte het egter gelui dat die ANC in die groter Pretoria-gebied besluit het om die naamkwessie eers met rus te laat aangesien die reuse-reaksie teen die naamsverandering van die stad vir die ANC as ’n verrassing gekom het.

AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, het gesê AfriForum het besluit om ’n aksie-prosedure eerder as ’n aansoekprosedure in die beoogde hersieningsproses te volg. “Daar is twee redes daarvoor. Eerstens voorsien ons aansienlike feite-dispute oor die verloop van die straatnaamproses wat nou reeds sedert 2007 aan die gang is, en in die tweede plek glo ons dat die tyd aangebreek het dat raadsamptenare en ANC-politici in ’n ope hof ondervra en kruisondervra word oor presies wat hulle laat besluit het om die name van 27 strate met groot koste te verander, terwyl verskeie ander raadsfunksies en -dienste agterweë bly.

Die dagvaardiging sal dié week nog beteken word, waarna die aksieproses in die nuwe jaar ’n aanvang sal neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

André ·

Kan iemand vir ons sê wat hierdie naamsvernaderinge ons belastingbetalers gekos het? Dit is hoog tyd dat die Tshwane Metroraad aangespreek word oor hulle spandabelrigheid.

Geld groei nie op ons rûe nie.

Hulle breek paaie oop waar dit nie nodig is nie en teer dit dan ten duurste, maar gaan kyk na al die slaggate daar by die Hornsnekpad naby die Verkeerskollege… Hoekom kry daardie pad nie aandag nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.