Pretorianer R25 000 ryker vir Afrikaans

Dr. Willem Botha, uitvoerende direkteur en hoofredakteur van die WAT, Marita van der Vyver, ondersteunende kunstenaar van vanjaar se rondte van Borg ‘n Woord, en Willie Lategan, uitvoerende hoof van finansiële dienste van Absa, tydens die trekking.

Alana Bailey, ʼn inwoner van Pretoria, is Vrydagaand R25 000 beloon nadat sy die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se Borg ʼn Woord-veldtog ondersteun het.

Die prystrekking vir Borg ‘n Woord se landwye geldinsamelingveldtog is gister gehou.  Bailey is die wenner van ʼn Absa-belegging ter waarde van R25 000.

Die WAT moet jaarliks R3 miljoen insamel om te oorleef aangesien die staatsubsidie verminder is tot R1,3 miljoen per jaar. Dr. Willem Botha het aan Maroela Media gesê die Borg ʼn Woord-veldtog trek tans op R250 000 en dat hulle nog sowat R100 000 benodig om te help om hul doelwit teen die einde van die jaar te bereik, aangesien hulle befondsing uit ander bronne ook ontvang.

WAT se Borg ʼn Woord-veldtog gee aan enigiemand die geleentheid om ʼn Afrikaanse woord te borg teen R100, of eksklusief te borg teen R5 000. Elkeen ontvang ‘n sertifikaat met hul naam en die geborgde woord daarop. Mense wat voor 28 Februarie ʼn woord geborg het, het in aanmerking vir R25 000-belegging gekom.

Met die Borg ʼn Woord-veldtog is daar al heelwat mense wat borgstaan vir die taal. Riaan Cruywagen het die woorde “nuusleser” en “ikoon” geborg terwyl AfriForum die woord “taalregte” eksklusief het.

Vir meer inligting besoek hul webwerf by www.wat.co.za

Byskrif: Dr. Willem Botha, uitvoerende direkteur en hoofredakteur van die WAT, Marita van der Vyver, ondersteunende kunstenaar van vanjaar se rondte van Borg ‘n Woord, en Willie Lategan, uitvoerende hoof van finansiële dienste van Absa, tydens die trekking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.