Pretoriase polisiebeampte vir bergfiets doodgeskiet

Sersant Bruwer Smit. Foto's: Facebook

Sers. Bruwer Smit, ʼn polisiebeampte van Pretoria, is Dinsdagmiddag voor sy 10-jarige seun doodgeskiet ná hulle deur gewapende rowers aangeval is.

Smit en sy seun het met hul fietse op die Mabopane-hoofweg gery toe die mans hulle aangeval en van hul bergfietse en tekkies beroof het. Die seun het ongedeerd van die voorval afgekom. Die Hercules-sektor van die polisie was teen Dinsdagaand steeds op soek na die verdagtes.

Kollegas wat saam Smit gewerk het, het aan Maroela Media gesê hulle is geskok deur sy dood. Hy het by die Lyttelton-polisiestasie gewerk. “Hy was die beste wat daar was, voorwaar die beste, hy het altyd almal inspireer,” het ʼn kollega gesê. Nog ʼn kollega het hom as ʼn held beskryf en gesê “geweld het ʼn goeie skaakstuk in die geveg teen geweld van die skaakbord gevee.” Kollegas sê Smit se lewensleuse was om “elke dag voluit te leef, aangesien jy nooit weet wanneer dit jou laaste mag wees nie…”

Luitenant-kolonel Tshisikhawe Ndou, woordvoerder van die Gautengse polisie, het die voorval bevestig en gesê enigiemand wat meer inligting oor die voorval het, moet luitenant-kolonel Jokhiba Makhumufane by 082 319 9737 skakel. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.