‘n Rooms-Katolieke priester, Andrew Cox, herstel tans in die hospitaal ná ‘n rooftog in sy kerk, het die Wes-Kaapse polisie Woensdag gesê.
Lt.kol. André Traut sê Cox van die gemeente in Constantia is Sondagaand in die gebou deur drie mans aangeval wat toe kontant gesteel het. Volgens IOL het Cox glo gesê hulle het die gebou se sleutels, sy huissleutels en R3 500 van die gemeente se geld gesteel. Hy is met ‘n mes in sy been gesteek en is toe in ‘n instap-kluis toegesluit. Hy is omstreeks 08:00 die volgende oggend deur ‘n administratiewe beampte vrygelaat. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.