Prins Andrew loop hom vas teen die polisie

Prins Andrew

Prins Andrew

Die polisie in Londen het Sondag bevestig dat Prins Andrew van Brittanje verlede week deur twee koninklike wagte in die tuin van Buckingham-paleis voorgekeer is nadat sekuriteit ná ‘n huisbraak opgeskerp is.

Die hertog van York, derde kind van koningin Elizabeth II, is deur twee gewapende beamptes genader terwyl hy Woensdag in die tuin gestap het, het ‘n woordvoerder vir Scotland Yard gesê. Buckingham-paleis is die koningin se tuiste in Londen.

Die woordvoerder het egter ontken dat die beamptes ‘n vuurwapen op die 53-jarige hertog gerig en hom beveel het om op die grond te lê. “Twee beamptes het ‘n man Woensdag in Buckingham-paleis se tuin omstreeks 18:00 genader om sy identiteit te bevestig,” het die woordvoerder gesê. “Die man is voldoende geïdentifiseer. Geen wapens is te voorskyn gebring nie en geen krag is gebruik nie.”

Buckingham-paleis wou nie kommentaar lewer oor die voorval nie.

‘n Man is twee dae vantevore binne die paleis in hegtenis geneem tydens ‘n groot sekuriteitsbreuk. Hy het oor ‘n heining geklim om die gebou te betree. Hy word van huisbraak, oortreding en kriminele skade aangekla. ‘n Tweede man is buite die paleis in hegtenis geneem op vermoede dat hy saamgesweer het om huisbraak te pleeg.

Volgens die polisie was niemand van die koninklike familie tydens die voorval in die paleis nie. Die 87-jarige koningin is tans met vakansie by Balmoral-kasteel in Skotland.

Die huisbraak is een van die ernstigste sekuriteitsbreuke by die paleis sedert 1982 toe die werklose Michael Fagan die koningin se slaapkamer betree het terwyl sy in haar bed gelê het. Fagan het glo 10 minute lank met die koningin gesels voordat sy hulp kon ontbied. Hy het oor die paleis se muur gespring en teen ‘n afvoerpyp opgeklim.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.