Prins Harry se plofbare onthullings: ‘Dis al taal wat my familie verstaan’

‘Spare’ het winkelrakke op 10 Januarie wêreldwyd getref. (Foto: Justin Tallis/AFP)

Volgens prins Harry, die hertog van Sussex, praat hy nou met die bekendstelling van sy opspraakwekkende boek, Spare, die enigste “taal” wat die Britse koninklike familie verstaan, naamlik die taal van die media.

Die hertog se lankverwagte memoire het Dinsdag winkelrakke wêreldwyd getref en met die boek se talle plofbare onthullings en twee gepaardgaande televisie-onderhoude, maak die 38-jarige prins dit duidelik dat hy klaarblyklik nie binnekort uit die kollig sal tree nie.

Spare se titel sinspeel op Harry se posisie in die lyn van troonopvolging. Dit is ook ʼn verwysing na ʼn grap wat sy pa, koning Charles III, na bewering vir sy ma, prinses Diana, by Harry se geboorte vertel het: Dat sy werk nou gedoen is omdat hy ʼn “heir and a spare” vir die Britse troon verseker het.

Die boek bevat 416 bladsye se staaltjies, herinneringe en skokkende onthullings, insluitend sy verlede met dwelms, bewerings dat prins William hom fisiek aangerand het en sy opspraakwekkende Nazi-kostuum.

Prinses Diana saam met prins Harry. (Foto: Twitter)

Volgens Penguin Random House, die boek se uitgewer, is Spare vol “rou, onwrikbare eerlikheid” en ʼn publikasie vol insig, openbaringe, selfondersoek en “swaar verworwe wysheid oor die ewige krag van liefde oor hartseer”.

“Daar kom ʼn punt wanneer stilte soos verraad is, so ek sien nie hoe stilte dinge ooit beter gaan maak nie,” het die hertog gesê in ʼn onderhoud met die Amerikaanse joernalis Anderson Cooper op NBC se 60 Minutes in aanloop tot die boek se bekendstelling.

“Nou probeer ek ʼn taal praat wat my familie dalk sal verstaan. Daarom sit ek nou en deel my waarheid met woorde uit my eie mond eerder as wat ek deur ‘anonieme bronne’ stories in die media gaan lek.”

Hier is ʼn paar onthullings uit prins Harry se boek:

Só vind hy uit sy ma is dood

Harry beskryf die oomblik wat sy pa hom moes vertel sy ma, prinses Diana, is in ʼn motorongeluk in Parys, Frankryk, dood en skryf dat koning Charles III, toe die prins van Wallis, gesukkel het om die regte woorde te vind.

“Ma is ernstig beseer en is hospitaal toe geneem, my liewe seun,” het sy pa glo gesê. “Hy het my altyd ‘liewe seun’ genoem, maar hy het dit baie herhaal. Hy het saggies gepraat. Ek was onder die indruk dat hy geskok was.”

Prinse Harry en William tydens hul ma, prinses Diana, se begrafnis in 1997. (Foto: Joel Saget/AFP)

Harry skryf dat sy pa nie onder normale omstandighede emosie gewys het nie en nie sy seun omhels het nie, maar wel twee keer sy hand op sy knieë gesit het en hom probeer verseker het dat dinge reg sal kom.

Harry is spyt oor die laaste gesprek met Diana

Die hertog skryf dat hy enkele ure voor sy ma se dood met haar gepraat het, maar die gesprek afgejaag het omdat hy met neefs gespeel het.

“Ek het saam met Willy en my neefs rondgehardloop en wou nie ophou speel nie,” skryf hy.

“So ek was kortaf met haar. Ek wens ek het om verskoning gevra daarvoor.”

Harry noem Camilla ʼn ‘skurk’

Prins Harry vertel in die boek dat hy en William hul pa gesmeek het om nie met Camilla, nou koningin-gemalin, te trou nie.

“Ons het hom op die ou end sterkte toegewens. Geen kwade gevoelens nie. Ons het besef dat hy uiteindelik by die vrou gaan wees wat hy nog altyd liefgehad het.”

In sy 60 Minutes-onderhoud het die hertog egter gesê dat Camilla aanvanklik vir hom die skurk in die verhaal was. “Sy was die skurk, sy was die derde party in my ouers se huwelik. Ons het nie gedink dis nodig dat hulle trou nie, hulle was mos nou saam.”

Charles en Camilla op hul troudag in 2005. (Foto: Chris Ison/AFP)

Volgens prins Harry was die troue ook nodig om Camilla se beeld in die media en onder Britse burgers te “rehabiliteer”.

“Sy het gevaarlik begin raak danksy die bande wat sy besig was om met die Britse media te smee.”

Prins Harry ry twee keer deur dieselfde tonnel waar sy ma dood is

Hy skryf dat hy tydens ʼn besoek aan Parys vir die 2007 Wêreldbeker-rugbytoernooi sy bestuurder gevra het om twee keer deur die tonnel te ry waar Diana dood is en teen dieselfde spoed te ry wat haar bestuurder die aand gery het toe hy beheer oor die voertuig verloor het.

Die tonnel waar prinses Diana 25 jaar gelede in ‘n motorongeluk gesterf het, naby die Pont de l’Alma in Parys. (Foto: Emmanual Dunand/AFP)

“Ek het altyd aan die tonnel as een of ander verraderlike gang gedink, maar dit was net ʼn kort, eenvoudige tonnel sonder fieterjasies. Daar is geen rede waarom iemand ooit daarbinne moes sterf nie.”

Harry het uitgelaat gevoel tydens koningin Elizabeth II se afsterwe

Die hertog was toevallig in die Verenigde Koninkryk op 8 September 2022 toe vrese oor koningin Elizabeth II se gesondheid begin toeneem het.

Harry skryf in sy boek oor die oproep wat hy van sy pa gekry het dat dit nie goed met die koningin gaan nie en dat hy dadelik na Balmoral – haar amptelike woning in Skotland – moes kom.

Hy het egter op pad uitgevind dat hy te laat was. “Ek het na die BBC-webwerf gekyk. My ouma was dood. My pa was koning.”

Prins William, die prins van Wallis en prins Harry tydens koningin Elizabeth II se begrafnisprosessie in 2022. (Foto: Chris J Ratcliffe/AFP)

Volgens Harry het van die ander senior koninklike familielede, insluitend sy broer, met ʼn klein private vliegtuig na Balmoral gereis sonder om hom saam te nooi.

“Ná my pa se oproep het ek vir William ʼn boodskap gestuur en gevra hoe hy by Balmoral gaan uitkom, maar ek het niks teruggehoor nie. Ek vind toe later uit dat ʼn paar van hulle sonder my ʼn private vliegtuig geneem het na ons ouma se woning toe.

“Ek het steeds my ouma gegroet en ek was bly vir haar, want sy het haar lewe voltooi en haar man het vir haar gewag. Nou kon hulle langs mekaar begrawe word.”

Geen kontak met familie; nietemin droom Harry van versoening

Ondanks die mediastorm wat weens Spare se publisering aanhou broei, meen die hertog dat versoening met sy vervreemde familielede steeds sy grootste droom is.

Hy het sy familie se bekende gesegde, “don’t complain, don’t explain”, tydens sy televisie-onderhoud ten sterkste veroordeel en die familie se opset met die televisiereeks Game of Thrones vergelyk.

Prins Harry het ‘n eksklusiewe onderhoud met Anderson Cooper toegestaan. (Foto: Skermgreep/YouTube)

“Daar is selfs ʼn paar drake,” het hy bygevoeg, sonder om spesifieke name te noem.

Op Anderson se vraag of daar ʼn oplossing vir die konfliksituasie is, sê die hertog dat ʼn private, konstruktiewe gesprek nodig is.

“In die kern van hierdie drama lê ʼn gesin. Ek sien uit na die dag wat daar vrede is en om weer ʼn verhouding met my pa en broer te hê en daardie gesinsdinamiek terug te kry.”

Bykomende bronne: E! News, BBC, PEOPLE, CBS News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Erik ·

Ek het in die begin opgekom vir die dude, maar hy het bietjie te ver gegaan met hierdie boek. Wat presies hy probeer bereik het sal net hy weet. Hy het meer as genoeg geld (Diana se trustfonds, $100m na die Netflix reeks), so wat die motief was is vir my ‘n raaisel.

Christine ·

Die boek is die beste emosionele pad na herstel vir hom. Hy het ernstige emosionele skade opgedoen, net snaaks dat dit na vore gekom het met Megan se opwagting. SY is die oorsaak hat Harry sy familie en huis verlaat het, kamstig vir privaatheid en veiligheid van sy gesin. Nonsense! Megan beheer die arme man! Harry moet huistoe gaan en met sy familie daai belangrike gesprekke hê.

Hannelie ·

Ai ek wonder of daar nou ooit vrede sal kom tussen hulle.

Yolandie ·

Ek dink nie na al die uitbraaksels dat jy kan hoop op versoening met jou familie wat jy so swart smeer nie Harry – jy is naief regtig waar. Veral omdat jy nog geld maak uit die hele storie. Iewers gaan die geld opraak en Megan gaan jou eenkant toe skop want jy dien nie meer ‘n doel nie. Wat jy eintlik behoort te verwag want sy het dit aan haar eie pa en haar ander familie gedoen. Dan hardloop jy weer stert tussen die bene terug Engeland toe.

Pietie ·

Haai shame moet die wêreld hom nou jammer kry….jy moet op jou kooi lê wat jy opgemaak het.

kommentaar ·

Boetie, ek dink nie hulle gaan jou wil terughê nie….

Astrain ·

Harry… jy het nou waaragtig tot London Bridge afgebrande agter jou . En vir wat??? Oor jy wil REG wees???

Joe Olivier ·

Is hierdie aandag/geld soeker nou ‘n nog prins of nie. Ek was onder die indruk hy het afstand gedoen van die titels.

Lurock ·

Harry, jy praat oor versoening, maar jy sleep die koningshuis deur die modder. Dink weer meneer, die koningshuis is en was nog altyd groter as jy. Jy is ‘n baie klein vissie in ‘n baie groot dam.

LANA is ELANè ·

Arrogant is nie die woord nie, hy dink hy is in Hollywood, mens was nie jou vuil wasgoed so in die openbaar nie. Hy het sy hele familie vervreem van hom, nou verwag hy ñ olyftakkie . Vreemde mens, nes Hollywood snert.

Nettie ·

Watte treurige mens het hy nie uitgedraai nie.
Ek dink so baie aan Diana, en hoe sy hom sou lei om nie die mantel van “spare” aan te geneem het nie. Maar ‘n mens in eie reg kon geword het. Weg van die skadu van sy pa en broer en stiefma en die verlede.
So jammer.

Alida ·

Dink hy regtig sy familie sal ooit weet ‘n “private” gesprek met hom hê, konstruktief of nie, net sodat hy dit agterna tot in die fynste besondrrhede in ‘n boek of TV-onderhoud kan uitlap?

Daisy ·

My opinie – Ons het almal issues in ons kinderlewe gehad, maar almal voel nie dis nodig om al jou vuil wasgoed in die openbaar te was nie. Dit is beslis aandag soek.
Hy het gekies om sy land te verlaat en bande te breek, dan die bande (en brug) te brand en nou hoop hy om versoening. Regtig?

Mallie ·

Harry is soos Megan, omdat William en Kate geliefd is, gun hy dit nie vir sy broer nie, hulle soek net sensasie. Diana sou nie so iets gedoen het nie. Sies bir jou Harry

Truman Burbank ·

Diana sou nie so iets gedoen het nie? Lol. Jy het duidelik nie al haar onderhoude gesien nie. Sy het n raw deal gehad.

Ronél ·

Sal Meghan ooit tevrede wees, sy is dan self so onvergedoegd.

Yvonne ·

Ek sien in hom die klein seuntjie wat sy ma nog so bitter nodig gehad het…..is dit dalk die resultaat….van owerspel in n huwelik???

KatjieDeKat ·

Nee dis die resultaat vd vrou wat hy mee getrou het. Ten spyte van sy moeder se dood het hy heel gelukkig voorgekom in sy volwasse lewe. Tot Megan in sy lewe verskyn het. Daarna, net probleme en ongelukkigheid en onvergenoegtheid.

Moedeloos ·

Ek hoop Harry vind nou vrede in sy hart met hierdie boek en sy uitlatings. Iewers moes hy van sy frustrasie ontlae geraak het en hierdie onthullings is dit. Net jammer dat hy persoonlike wasgoed uithang wat in alle huishoudings gebeur. Elke persoon het sy/haar eie persoonlikheid en indien jou pa nie die persoonlikheid gehad het om toenadering te soek nie, hoekom moet hy anders optree om jou te paai. Aanvaar n persoon soos hy/sy is. Jou eie stiefma inkluis. Jy het die keuse gemaak om afstand te doen van jou koninglike voordele moet nou nie die ander blameer omdat jy op jou eie by jou ouma moes uitkom nie. Jy tree op soos n seuntjie wat eers vra vir n rooi stokkielekker maar sodra jy dit het wil jy eintlik die blou een gehad nie. Neem boeta dit werk nie so nie. Word groot en pas by die werklike lewe aan.

DJ ·

Hy is ‘n klein seuntjie wat nooit groot geword het nie en Megan het dit gesien en speel hom soos ‘n kitaar.

Lizelle ·

Harry is ‘n hartsmens soos sy ma, die res van hulle is koud, wys geen emosie nie, onvriendelik, saaklik, kil… Dit is goed hy het die boek gepubliseer om sy kant van die saak te stel. Hy het beslis nie die geld nodig nie. Ek sou nie wou versoen met so familie nie.

Renier ·

Bly hy het die ghoens om dinge te se soos dit is. Die royal familie het baie geraamtes in die kas.

KatjieDeKat ·

Maar hulle was goed genoeg om hom alles in die lewe te gee en hom te ondersteun. Sy pa en broer en ouma en oupa was lief vir hom. Hy het n goue lewe gehad. Kyk, ek is nie n “fan of the royal family” nie. Maar dis eienaardig hoe die wiele afgeval het vandat Megan op die toneel verskyn het. Tot sy in sy lewe gekom het, was hy heel gelukkig.

Truman Burbank ·

Hy het maar voor die tyd gerebelleer. Want hy aard deffinitief na sy ma

Truman Burbank ·

Ek stem Renier. Ek twyfel of die mense werklik weet wie die royals is. Waarom Diana gedwing was om met Charles te trou. Dat beide Elizabeth en Phillip agter klein kinders in van Victoria (hulle is verlangs familie van mekaar. Cousin kissers). Einste Victoria vir wie ou paulus van pretoria gaan kuier het. En daar is nog baie meer.

AH ·

Hy het die besluit geneem (hoogs waarskynlik onder druk van Meghan) om sy rug op sy familie en erfenis te draai. Hy moet nou maar met daardie besluit se gevolge vrede maak. Ek het geen simpatie met dié twee spoilt brats nie!

Kloekie ·

Sjoe die mannetjie is bitter en gebreinspoel.
Hy en sy vrou was nog nooit gelukkig nie. Hulle het soveel ‘issues’ uit hulle verlede.
Hulle het gedink as hulle trek gaan hulle gelukkig wees maar ongelukkig trek jy jouself saam.
Sy was maar net nog n skoondogter wat nie oor die weg kom met haar skoonfamilie nie. By the way, ook nie met haar eie familie nie. Die hele dokumenter deur hamer sy op ras en kleur.
Dis so duidelik uit die eensydige dokumenter dat sy straal en hy lyk depressief. Sy het hom vergiftig teen sy eie familie.

Mariana ·

Shame die seuntjie moet nog grootword. Daai vrou se invloed op hom is erg, sy soek net kollig, hy het beslis te ver gegaan. Al die foute in sy lewe is altyd iemand anders se skuld. Niks is ooit sy skuld nie. Plaas hy grootword en verantwoordelikheid vat. Maar sy grootste fout was toe hy die dag met daai vrou getrou het. Net jammer daar is twee kinders wat op die ou einde gaan ly onder hulle besluite. Sy gaan hom kort voor lank uitskop. Maar genoeg van hulle, raak nou vervelig.

Niklaas ·

Laat ons hoop dis die laaste wat ons van hierdie lastige egpaar te siene en te lees sal kry. Met al daardie inkomste kan hul rustig leef in semi afsondering , tot hul oudag , in die nodige luuksheid. Sonder dat hul weer hul gesigte wys , wat soveel krampe veroorsaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.