Prof. Jansen ontken Madiba-uitlating

Prof. Jonathan Jansen

Prof. Jonathan Jansen, die visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat, het Maandag ʼn berig in die media verwerp wat beweer hy het gesê hy wens oud-president Nelson Mandela wil tot sterwe kom.

“Ek wens eerlikwaar dat Madiba vir altyd kan lewe. Ek wens ook sommige joernaliste wil meer eties optree voor hulle heeltemal ʼn boodskap verdraai,” het hy Maandag op Twitter geskryf.

Jansen het aan Jacaranda FM gesê hy is buite konteks aangehaal. “Sommige joernaliste vat soms lang sinne en verkort dit aansienlik en dan gaan die hele boodskap verlore. My toespraak se kruks was dat ek wens Madiba kan in vrede rus, sonder al die bohaai in die media oor hom,” het hy gesê.

Lacea Loader, Jansen se woordvoerder, het gesê ʼn volledige persverklaring oor die aangeleentheid sal later Maandag beskikbaar gemaak word.

Beeld het Maandag berig Jansen het die aanmerking Sondag tydens ʼn leierskapberaad by die kampus voor nagenoeg 250 studente gemaak. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.