Prof. Jansen se opmerkings oor Afrikaans krap

Prof. Jonathan Jansen

Prof. Jonathan Jansen

Opmerkings wat die rektor van Kovsies, prof. Jonathan Jansen, onlangs tydens die English Academy of South Africa se Percy Baneshik-gedenklesing op sy kampus gemaak het, het verskeie instansies warm onder die kraag.

Dit volg nadat sommige opmerkings wat tydens sy toespraak gemaak is, Woensdag in die Afrikaanse media aangehaal is.

Jansen het tydens die gedenklesing onder andere gesê: “Eksklusiewe Afrikaanse wit skole hou ’n ernstige gevaar in vir rasverhoudings in Suid-Afrika,” en “swart ouers verkies dat hul kinders in Engels leer… hulle maak die regte berekening dat die hele ekonomie in Engelse terme georganiseer is en daarom is hul kinders se kans op sukses soveel groter in die kolonietaal”.

Jansen het ook gesê Afrikaanse taalaktiviste verstaan dié beginsel glad nie en probeer daarom om nie-Engelse tale onder ’n “politieke sambreel” in te skuif “in ’n baie simplistiese plan om die een taal te bevorder wat as ampstaal vir dekades onder apartheid status en finansiering geniet het”.

Hy het Engels as onderrigtaal bepleit en gesê moedertaalonderrig waarborg nie beter resultate nie.

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het Woensdag in ʼn verklaring gesê Jansen se ontkenning van taalregte is ʼn groter gevaar vir versoening as wat Afrikaans ʼn gevaar is.

“Met sy uitlatings oor die wenslikheid van Engelse, in plaas van moedertaalonderrig en die gevaar wat ‘Afrikaanse wit skole’ sogenaamd vir rasseverhoudinge in Suid-Afrika inhou, laat prof. Jansen nie alleen kommer ontstaan oor die toekoms van Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) nie, maar trap hy ook in die slagyster om so diep in politieke ideologie en retoriek vas te val, dat hy akademiese en kulturele regte en beginsels uit die oog verloor.” Só sê Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum en ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad.

Volgens Bailey is die noodsaak van enkelmediumskole in die moedertaal van leerders ʼn beginsel wat internasionaal erken word. Omdat die VN insien dat taal nie net ʼn kommunikasiemedium is nie, maar ʼn onlosmaakbare deel van mense se identiteit, het die organisasie 21 Februarie tot internasionale moedertaaldag verklaar. In die verklaring word genoem dat die handhawing en uitbou van tale juis solidariteit, verdraagsaamheid en wedersydse begrip bevorder.

“Mense sal vreedsaam en produktief saamleef as hulle onderskeie identiteite en kulture (wat taal insluit) gerespekteer word en hulle toegelaat word om dit in vryheid uit te leef. As almal gedwing word om in Engels onderrig te onvang, gaan die teenoorgestelde gebeur. Onderlinge respek tussen gemeenskappe sal nooit deur die ontkenning en aflegging van eie taal, kultuur en identiteit behaal kan word nie. Akademiese uitnemendheid nog minder.”

Intussen het die Christen-Demokratiese Party (CDP) Woensdag gesê hy is bekommerd oor Jansen opmerkings “omdat dit wetenskaplik onjuis is, en op ‘n pleidooi vir die verkragting van die grondwet neerkom”.

“Jansen is ‘n voorste transformasiedrywer wat reeds byna alle spore van Kovsies se Christelike erfenis, soos die gebed by gradeplegtighede en die logo, verwyder het, en nou lyk dit of hy sy visier op Afrikaans rig,” het ds. Theunis Botha, leier van die CDP, gesê.

“As dit wat Jansen propageer werklik transformasie is, dan is transformasie ‘n euwel wat soos apartheid op die ashoop hoort. Ons doen ‘n beroep op Jansen om nie die grondwet te ondermyn ter wille van politieke vlieëvangery nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

M BESTER ·

Dank die Vader my laaste kind is amper klaar met skool. Vandat my oudste begin skoolgaan het, was daar al so baie verandernge in die onderwys, te veel om op te noem.

Ignatius ·

Afrikaans is die enigste taal wat na Afrika vernoem is.Geen ander taal in Suid Afrika is na Afrika vernoem nie.Afrikaans is dus ‘n ware Afrika taal wat my bertref.
Die vyande van Afrikaans sal enigiets doen om dit te vernietig en hulle verlustig hulle ook daarin wanneer Afrikaans met Engels gemeng word soos dit deesdae in die mode is.DIt is myns insiens die begin van die vernietiging van die Afrikaanse taal.Is dit nie daardie klein jakkalsies wat die grootste vernietiging in die wingerd veroorsaak nie ?

Sylvia ·

Dit is regtig jammer dat Prof Jonathan Jansen, wat veronderstel is om bietjie meer insig en algemene kennis het, sulke goed kwyt kan raak. Kom ons veronderstel sy stelling is reg van “swart ouers verkies dat hul kinders in Engels leer” en dat Afrikaanssprekende kinders wanneer hulle in hulle moedertaal Afrikaans onderrrig kry beter onderrig kry (volgens Die Burger), is dit so eenogig, dit is zenofobies en diskriminerend om terwyl hier baie minderheids taalgroepe baklei vir hulle regmatige plek, wil Prof Afrikaans sommer van die tafel vee, dit saai onnodige verdeeldheid en “apartheid”.

Louis van Wyk ·

In die begin van sy rektorskap het almal gedink hy het uit die hemel geval.Met die verwydering van Christelike beginsels by die UV moes almal al gesien het wat sy uiteindelike doel was.Die verengelsing van die UV en die uitwissing van Afrikaans.

Johannes Blom ·

Dankie tog vir Akademia en volkseie skole en dan nog die grondwet plus AFRIFORUM maar by gese daar sal nog baie water in die see loop voor dit gebeur en onthou ons is in Suid Afrika nie Zimbabwe of Namibie nie.

wragtig ·

Hy swig voor die regering. As hy wil engels praat laat hy by sy huis dit loop en praat. Hy moet nie sy bek rek oor ons moeder taal nie.

Dr Mattheus ·

Ek het van Jansen se aanstelling my bedenkinge gehad oor die wysheid vd aanstelling. Sy uitsprake gee inderdaad rede tot kommer. As oud-Kovsie sien ek hoe die karakter vd eens christelik-Afrikaanse instelling by die dag verander. Ek wonder of hy dink sy wilde uitsprake sal hom in gewildheid laat toeneem.

Wynand Botha ·

Ek het altyd die idee gekry hy is fanaties ten gunste van moedertaal-onderwys.
Sy voordrag is egter tekenend van
1. Hy is die klits totaal kwyt – ouderdoms-kwale het hom dalk ingehaal
2. Hy kruip voor sy Engelse gehoor
3. Hy kruip vir erkenning by die ANC
4. Nieteenstaande sy opleiding tydens apartheid is daar geen erkenning vir die geleenthede wat hy toe geniet het nie.
5. Hy het maar net weer ‘n geleentheid gesoek om in die nuus te wees aangesien sy populariteit besig is om drasties te daal
Wynand Botha

Jasper ·

Ou Proffie, die enigste bietjie dunk wat ek van jou gehad het is nou weg soos laasmaand se “pay”
Jy het eers by die Afrikaanses probeer vlerksleep nou kruip jy voor jou Meesters. Ga !

Mossie ·

Dit is die regering wat al die moeilikheid veroorsaak en van die begin af teen Afrikaans is.Dit is net nog n manier om ons te probeer onderdruk en ek het nie n graad nodig om dit te weet en te sien nie.

bileam se donkie ·

Die ou gesegte”wein brood jy eet,wein woord jy spreek” is so waar.Afrikaans word sterker en sterker,dit bekommer die “kaders”

Christo ·

Natuurlik is Prof. Jansen 100% reg !! Natuurlik verkies swart ouers dat hul kinders in Engels onderrig word..Wat is die doel van Afrikaanse onderrig op skole? Net nog n vak wat na matriek niks vir die leerder beteken nie.
Wie van ons purist praat net Afrikaans? Niemand nie!! Suid-Afrika het lankal so verander dat Afrikaans vreemd in sy eie land is.
Geen besigheid kan bedryf word deur slegs Afrikaans te gebruik nie.
Afrikaans het vewater na n taal wat slegs by die huis of MISKIEN by n braai gebruik word.
Vir naskoolse onderrig,besigheid en buitelandse reise word Afrikaans nie gebruik nie.
Voed ons leerders van jongs af in Engels op , dan sal hulle nie in die REGTE wereld daarmee sukkel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.