Prof van SA teister glo Harvard-studente

Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts. (Julie 2020) (Foto: Harvard University/Facebook)

Die gesogte Harvard-universiteit in Amerika word deur drie studente gedagvaar nadat die instelling glo jare lank al misluk het om studente teen ʼn bekende Suid-Afrikaanse professor aan die instelling te beskerm.

In die regsgeding word beweer dat daar ʼn patroon van seksuele wangedrag binne die universiteit se departement antropologie is en dat die betrokke professor jare lank talle studente seksueel geteister het.

Die studente beweer dat prof. John Comaroff (77) hulle sonder toestemming gesoen en betas het en selfs gedreig het om hul loopbane te beëindig indien daar ooit daaroor uitgepraat sou word.

Comaroff is ʼn professor in Afro- en Afro-Amerikaanse studies en antropologie aan Harvard, asook ʼn ereprofessor in antropologie aan die Universiteit van Kaapstad (UK).

Dié gerespekteerde professor het sedert die bewerings aan die lig gekom het, ontken dat hy ooit enige studente geteister of gedreig het, berig die nuusagentskap WCVB.

Luidens die dokumente wat deur die New Yorkse regsfirma Sanford Heisler Sharp aan Harvard oorhandig is, het die universiteit glo al jare lank die bewerings van Comaroff se optrede geïgnoreer.

Die universiteit het egter dié bewering betwis.

“Die bewerings in die regsgeding is geensins ʼn regverdige of akkurate voorstelling van die deurdagte stappe wat deur die universiteit gedoen is in reaksie op bekommernisse wat na vore gebring is nie,” sê ʼn woordvoerder van die universiteit in ʼn verklaring.

Die universiteit het verlede week, kort nadat die regsgeding aanhangig gemaak is, gesê hy het ʼn “deeglike hersiening” van die situasie gedoen en bevind dat Comaroff betrokke was by verbale wangedrag wat die seksuele en geslagsgebaseerde teisteringsbeleid en die professionele gedragsbeleid van die Fakulteit Lettere en Wetenskappe (FAS) oortree.

Harvard sê hulle het intussen teen Comaroff opgetree en hy is op onbetaalde administratiewe verlof geplaas vir die komende semester en beperkings is op sy onderrig- ​​en adviesaktiwiteite vir die 2022-’23‑ akademiese jaar geplaas.

Nadat dissiplinêre stappe teen Comaroff gedoen is, het byna 40 fakulteitslede ʼn brief onderteken wat die resultate van die wangedragondersoek bevraagteken het, berig die Harvard Crimson.

In die brief is Comaroff glo beskryf as “ʼn uitstekende kollega, adviseur en toegewyde universiteitsburger”.

Sedert die regsgeding egter van stapel gestuur is, het byna al die ondertekenaars glo hul steun teruggetrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marius ·

Vuiligheid land altyd een of ander tyd op die lappe. Dis die bewys dat hoogstaande mense met geld, mag en aansien nie so goed en verhewe is soos hulle dink nie. “Bo blink en onder stink”

ES ·

Kan nie verstaan hoe daar so baie mans is wat hulle skuldig maak aan sulke wangedrag nie. Daar is nie ‘n gepaste straf is vir sulke mense nie en omdat dit so moeilik is om te bewys, word sulke mense nie aan die pen gery nie.

Wat op dees Aarde ·

Stem heelhartig saam. Kyk nou maar net die hele Andrew fiasko. ‘n Onskuldige persoon sal nie stilbly geld betaal nie.

Suzette ·

My eerlike opinie is dat ‘n gepaste straf amputasie van wat pla sal wees. Dit sal hulle baie gou laat besin.

FM ·

Piet, jy sou dit geniet indien ek jou kon antwoord. My dogter het ‘n toepaslike een………………hahaha

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.