ʼn Skolier van Pretoria was keelvol vir die manier waarop haar buurt verwaarloos word en het besluit om iets ‘groens’ daaraan te doen.
Nina Attfield, ʼn graad-11 leerling aan Cornwall Hill College in Irene, se projek staan bekend as Walk to School. Die projek se doel is om bewustheid van die omgewing en rommelstrooiery te skep.
Attfield en ʼn groep vriende het Vrydagoggend vir die eerste keer bymekaar gekom en die sowat 1,2km skool toe gestap. Foto’s van rommel en tekens van verwaarlosing is al langs die pad geneem, wat aan die Tshwane-metro gestuur gaan word. “Deur te stap eerder as om te ry, word uitlaatgasse ook verminder en só kan elkeen sy koolstofvoetspoor verminder,” het Attfield gesê.
“Ek hoop dat die projek die aandag op die rommelprobleem en algemene instandhouding in my voorstad sal fokus,” het sy gesê.
Attfield beplan om elke laaste Vrydag van elke maand so ʼn prettige, maar doelgerigte, uitstappie te onderneem.