Prokureurs glo “te duur”

prokureurProkureursfooie is glo te duur vir gewone Suid-Afrikaners om dit te bekostig, het die Sunday Times berig.

“Litigasie is buite die bereik vir armes en die middelklas, aangesien dit ʼn huishulp byna twee dae se salaris sal kos om ʼn prokureur vir 15 minute lank te sien,” het John Jeffery, adjunk minister van justisie, aan die koerant gesê. “Dit is duidelik dat toegang tot ʼn prokureur slegs vir welgestelde Suid-Afrikaners beskore is. Selfs die middelklas kan nie die koste van regsverteenwoordiging bekostig nie.”

Nuwe tariewe vir regsverteenwoordiging is pas aangekondig. ʼn Telefoniese konsultasie vir ʼn saak wat in die hooggeregshof aangehoor word, kos R235 vir 15 minute, dus R940 per uur.

ʼn Vergadering met ʼn voornemende prokureur kos R72 vir 15 minute en R94 per bladsy om ʼn hofdokument op te stel.

Michael de Broglio, ʼn prokureur van Johannesburg, het aan die koerant gesê die tariewe het nie tred gehou met inflasie nie. Hy reken die tarief moet bykans R1 150 wees. “Dit sal jou tussen R2 500 en R5 000 kos om ʼn standaard, eenvoudige mosie-aansoek op te stel,” het de Broglio gesê. Dit neem glo “minder as ʼn uur om op te stel”.

Jeffery het aan die koerant gesê die regering gaan voort met die Wetsontwerp op Regspraktyk, wat hopelik voor die algemene verkiesing volgende jaar goedgekeur sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarie van Niekerk ·

Sjoe wat sal die ANC nie nog doen voor die volgende verkiesing nie? Alles net om stemme te trek sodra hulle daai kruisie het dan verander alles weer en die lieg en bedrieg en diefstal van belastinggeld begin weer van vooraf. Hoe laag gaan hulle nog daal

Pieter Potgieter ·

Persoonlik dink ek die koste moet styg. N Dr kry al R550. 00 vir 15 min al is dit net vir n voorskrif. Ek gun hoeer tariewe vir proks en eerder laer tariewe vir Advokate wat skelms los lieg op geleerdheid. As jy nie n prok kan bekostig nie het jy hom nie nodig nie. Talle kansvaters gaan in elk geval net n moontlikheid soek om sy werkgewer te wil dagvaar al is dit net omdat st nie twee eiers en spek vir ontbyt kon kry nie. Ja Sarie dink net.

fransie ·

Ek het vir 26jaar vir prokureurs gewerk – in 1980 begin en 2011 klaargemaak – destyds het my mond al begin oophang vir die fooie wag gehef word en teen 2011 het dit permanent oopgestaan vir die fooie wat toe gehef is. Dit is skreiend skandalig – elke ou moet seker betaal word vir sy werk en as ‘n mens ‘n graad het en jou verbeel jy is beter as ander moet jou rekening seker substansieel meer wees, maar liewe land wat te erg is, is te erg!!

Dan ·

Al daaraan gedink hoe prokureurs 6 of 7 jaar tydens hul studies geen inkomste verdien het nie, terwyl hul ook nog al die klasgelde, boeke, verblyf ens moes betaal – dit terwyl die ou op straat lekker geld verdien en televisie gekyk het? Daaraan gedink hoe prokureurs in hul eie tyd hulself op hoogte moet hou met die voortdurende veranderings in die reg en wette wat feitlik daagliks gewysig word, waarvoor hul geen betaling ontvang nie? En die kostes daaraan verbonde om ‘n regspraktyk te bedryf, hoeveel geld prokureurs verloor omrede hul kliënte hul nie betaal nie, en hoeveel stres daaraan verbonde is om elke dag met mense se lewens te werk. Vir diegene wat kla oor prokureurs se fooie, gaan dink weer. Julle self sal nie hierdie tipe van gespesialiseerde werk doen vir “peanuts” nie. Die probleem is nie fooie wat te hoog is nie (want dit is nie), die probleem is daar is sekere prokureurs wat die publiek beroof en niks oorkom nie weens die regte konneksies wat hulle het, of wie se dade goedgekeur word onder ‘n politieke agenda.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.