Prostituut- en tienermoord: De Jager erken hy sny tiener op

Johannes Christiaan de Jager (48) vandag in die hof. Foto: SAPA

Johannes Christiaan de Jager (48) vandag in die hof. Foto: SAPA

Johannes Christiaan de Jager, wat daarvan verdink word dat hy twee 18-jarige meisies vermoor het, het Woensdag aan die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê een van die slagoffers, Charmaine Mare, het op ʼn badkamermat gegly en nie weer bygekom nie.

De Jager voer aan dat hy nie vir De Jager vermoor het nie, maar dat haar dood  ʼn “ongeluk” was. Hy het ook onskuldig gepleit op die moord en verkragting van die ander slagoffer, Hiltina Alezander, ʼn prostituut van Parow.

Hy het in sy pleitverduideliking gesê Mare, van Mpumalanga, se ongeluk het op Vrydag, 11 Januarie plaasgevind. Mare het tydens die voorval by ʼn vriendin in Kraaifontein gaan kuier. De Jager was in ‘n verhouding met die vriendin se ma. Die vriendin, haar ma en De Jager se seun was op ʼn bootreis toe Mare se beweerde ongeluk plaasgevind het.

De Jager en Mare was alleen by die huis. Hy het erken dat hy seksuele voorstelle gemaak het, maar dat hy net aan haar geraak of haar arm gevryf het. Hy het gesê hy het nie seksuele misdrywe met haar gepleeg of seks met haar gehad nie.

Hy het gesê hy wou vroeg die oggend van die beweerde ongeluk na die Kaapse hawe gaan om die familie te gaan oplaai ná hul bootreis. Mare sou glo saamry. Volgens hom het hy die oggend herhaaldelik gevra dat Mare uit die bed uit opstaan en aantrek en dat sy te lank gevat het om klaar te kry. Hy was glo gefrustreerd omdat hy geweet het daar gaan baie verkeer wees.

Hy het sy voertuig uit die motorhuis getrek en teruggegaan in die huis in. Mare was glo klaar aangetrek en het in die badkamer gesit en was op haar selfoon doenig. De Jager het gesê omdat sy veroorsaak het dat hulle laat gaan wees, het hy haar aan haar regterarm gegryp en na die badkamerdeur getrek.

“Sy het haar balans verloor en op die badkamermatjie gegly en geval. Sy het die kant van die bad getref en het daarna bewusteloos op die vloer geval,” het De Jager in sy verklaring gesê.

Hy het gesê alles het só vinnig gebeur dat hy nie weet watter deel van haar liggaam die kant van die bad getref het nie. Hy het haar kop heen en weer geskud en vir ʼn pols in haar nek gevoel, waarna hy besef het sy is dood.

De Jager het gesê hy was bang en paniekerig, daarom het hy besluit om haar liggaam in ʼn drein buite die huis te stort.

Hy het skuldig gepleit dat hy haar onderbene en voorarms afgesny het, sodat sy in die drein kon pas. Hy het ook skuldig gepleit dat hy die Sondag haar liggaam na ʼn veld in Kraaifontein geneem het, waar hy dit aan die brand gesteek het.

Haar liggaam is op 14 Januarie deur voetgangers gevind.

Hy het erken dat daar geen wetlike verskoning was dat hy haar liggaam vermink het nie en het geweet dit is teen die wet waarvoor hy strafregtelik vervolg kan word.

Hy het ook skuldig gepleit dat hy haar selfoon gesteel het soos in die aanklagtestaat aangedui is.

Die saak duur voort.

Lees ook:
Prostituut- en tienermoord: Verhoor begin vandag
Prostituut- en tienermoord: Man weer in hof
Man in hof wat Kaapse tiener glo vermoor, in stukke opkap

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Trippie ·

ALMAL kan van my verskil – ek GLO hy het haar vermoor. Geen mens (normale mens) sal dit in elkgeval oor sy hart kry om ‘n persoon wat per ongeluk gesterf het, se liggaamsdele af te sny nie.

Ek glo, as jy kan lieg, kan jy steel, kan jy MOOR ! Dit is net so.

Seg ·

Trip, Wonder hoeveel mense in ons land het nog gelieg nie, of het nog nooit eers bv. ‘n pen by die werk gevat nie? Ek het al gelieg en iets soos ‘n pen by die werk gevat. So volgens jou definisie is ek ‘n potensiële moordenaar?
Het jy al ‘n leun vertel of soos jy dit stel gelieg, of nog nooit?

Jasper ·

Sy relaas is tipies van n siek lafaard. In die ou dae sou hy al soos n voëltjie gesing het.

leon ·

Ek stem saam hyt haar vermoor en kla. Ek woon in die Paarl en ry daagliks deur kraaifontein na Brackenfell. Kraaifontein het n onheilsnes geword.

Cindy ·

Ek weet mans verpes dit as vrouens lank vat om klaar te maak. Nog nooit gedink ons kan op ge chop word daarvoor nie. Hoop hy sit lewenslank in die tronk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.