Proteas wen reeks

Die Proteas het die eendagreeks van vyf wedstryde teen Pakistan gewen, toe die Suid-Afrikaners die besoekers in Benoni met ses paaltjies geklop het.

Die Proteas het onlangs die toetsreeks oortuigend gewen, maar in die T20-reeks die onderspit gedelf. Hoewel die Suid-Afrikaners uiteindelik maklik in Benoni koning gekraai het, het dit in ‘n stadium bloedsweet gekos om die lopies uit die kolfblad gedelf te kry. Veral die reus Irfan het die blad met oneweredige wip en spoed goed benut, en die jong ster, Quinton de Kock vroeg teruggestuur pawiljoen toe.

Pakistan, wat eerste gekolf het, het self met die kolfblad gesukkel en kon net 205 lopies bymekaar skraap. Die paaltjiewagter Akmal het die beste met die kolf gevaar en 48 lopies van 51 balle gemoker. Hy het die bal ses keer teen die grenstou laat klap en ook ‘n ses gemoker.

Suid-Afrika het in die 44ste beurt met 208 vir vier geantwoord.

Die wedstryd is amper op sy kop omgekeer toe AB de Villiers met sy telling op een in die glippe misgevang is. De Villiers het voortgegaan en ‘n onoorwonne kapteinsbeurt van 95 gespeel. Behardien met 35 het die enigste ander noemenswaardige bydrae tot die Suid-Afrikaners se kolfpoging gelewer.

Vir die wenspan het McLaren drie paaltjies platgetrek, en Morné Morkel twee.

Irfan het twee paaltjies vir die besoekers ingeoes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.