Proteas wys Bokke hoe dit gedoen word

Die Proteas het Engeland met 229 lopies in Mumbai gewen. (Foto: Punit Paranjpe/AFP)

Die Proteas het pas vir die Springbokke gewys hoe dit gedoen moet word toe hulle vir Engeland met 229 lopies in ʼn Wêreldbeker-wedstryd in Mumbai oordonder het.

In warm en bedompige toestande het Rassie van der Dussen, Reeza Hendricks en Marco Jansen vyftigtalle gemoker, terwyl Heinrich Klaasen se honderdtal die kersie op die koek was.

Ná 50 boulbeurte het die Proteas met ʼn imposante telling van 399/7 gespog.

Engeland se kolflys beskik ongetwyfeld oor die nodige vuurkrag om só ʼn groot telling suksesvol te jaag. Maar Ben Stokes, Jos Buttler, Joe Root en Jonny Bairstow kon nie een meer as 15 lopies aanteken nie.

Die Suid-Afrikaners se oorwinning sou selfs groter gewees het as dit nie vir ʼn flinke vennootskap tussen Mark Wood (43 van 17 balle) en Gus Atkinson (35 van 21 balle) was nie.

Jansen het sy kolfwerk-blitzkrieg met ʼn goeie boulskof opgevolg en twee Engelsmanne (Dawid Malan en Root) terug na die kleedkamer gestuur.

Die vurige Gerald Coetzee het daarna drie paaltjies in sy vier boulbeurte geneem om Engeland van enige kolfwerk-momentum te beroof.

Klaasen is egter welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

“Die toestande was brutaal, as ek moet eerlik wees. Die hitte en bedompigheid het jou van al jou energie beroof en ek beskou hierdie honderdtal as een van my bestes nóg,” het die 32-jarige Suid-Afrikaner gesê.

Hy het ook Jansen se lof besing wat saam met hom ʼn vennootskap van 151 lopies van slegs 77 aflewerings gedeel het.

“Jansen was uitstekend. Hy het my aangemoedig en ek dink dat hy eintlik die toekenning verdien. Die lopies wat hy geslaan het was bitter belangrik.”

Die Proteas speel Dinsdag teen Bangladesj.

  • Opsomming van die telkaart:

Suid-Afrika 399/7 in 50 boulbeurte: Heinrich Klaasen 109, Reeza Hendricks 85, Marco Jansen 75* en Reece Topley 3/88.

Engeland 170/10 in 22 boulbeurte: Mark Wood 43*, Gerald Coetzee 3/35 en Lungi Ngidi 2/26.

  • Wêreldbeker-punteleer ná vier wedstryde:
  1. Nieu-Seeland: 8 punte met ʼn netto lopietempo van 1,923
  2. Indië: 8 punte met ʼn netto lopietempo van 1,659
  3. Suid-Afrika: 6 punte met ʼn netto lopietempo van 2,212
  4. Australië: 4 punte met ʼn netto lopietempo van -0,193
  5. Pakistan: 4 punte met ʼn netto lopietempo van -0,456
  6. Bangladesj: 2 punte met ʼn netto lopietempo van -0,784
  7. Nederland: 2 punte met ʼn netto lopietempo van -0,790
  8. Sri Lanka: 2 punte met ʼn netto lopietempo van -1,048
  9. Engeland: 2 punte met ʼn netto lopietempo van -1,248
  10. Afghanistan: 2 punte met ʼn netto lopietempo van -1,250

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Colin ·

Baie mooi gedoen daar. Die spel in alle aspekte oorheers en gehelp om ‘n misrabele dag vir Engelse sport te sorg.

Elmarie ·

Het dit só geniet! Puik gedoen ouens, jul baie jammer gekry in daardie hitte maar julle het ons trots gemaak! Bring die trofee huis toe!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.