Proteskonsert verenig Afrikaanssprekendes

Van die kunstenaars wat by die konsert opgetree het. (Foto: verskaf)

Talle ondersteuners het Saterdag 28 Mei saam met die DA en ’n verskeidenheid kunstenaars hul misnoeë oor die beoogde naamsverandering van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl uitgespreek.

“Daar was iets geskiedkundig aan die dag. Afrikaanssprekendes het verenig gestaan teen die verandering. Daar is ’n boodskap van eenheid uitgestuur.”

Só vertel Leon Schreiber, DA-LP van die Wes-Kaap, aan Maroela Media oor die proteskonsert wat die naweek by die Zomerlust-boetiekhotel in die Paarl plaasgevind het.

Herman Kleinhans, organiseerder van Wys jou sTaal en die konsert, is trots op die gemeenskap se betrokkenheid by die konsert.

“Dit was ongelooflik om te sien hoe mense saam kan staan as hulle passievol is oor iets.”

Hy het gesê dat die konsert oor meer as net politiek gegaan het.

“Mense het bloot opgestaan vir Afrikaans. Ons het saamgestaan in die feit dat ons taal nie ontken moet word nie.”

Die protesoptog wat voor die konsert plaasgevind het. (Foto: verskaf)

Kleinhans, Gian Groen, Jan Blohm, Wouter van de Venter, Churchil Naudé, Bottomless Coffee Band, Tino Singe en Len Muller het aan die konsert deelgeneem.

Die dag is afgeskop met ’n protesoptog wat om 08:00 van die Strooidakkerk in die Paarl vertrek het en het geëindig met ’n musiekkonsert. Konsertgangers het ook die geleentheid gehad om ’n petisie teen die voorgestelde naamsverandering van die Afrikaanse Taalmonument te teken.

“Ons het 10 000 digitale handtekeninge gekry en honderde mense het die petisie op die dag self geteken,” het Schreiber bevestig.

Dié petisie sal aan die Afrikaanse Taalmonument per e-pos gestuur word.

“Ek glo dat ons daarin sal slaag om te bewys dat mense verenig in hierdie kwessie staan,” het Schreiber gesê.

Hy het verder verduidelik dat ’n lyn oorgesteek is en dat dit absurd is om die monument van sy identiteit te stroop.

Schreiber is trots op die feit dat die geleentheid in so ʼn kort tydperk gereël kon word.

“Dit was ’n voorreg. Ons het die konsert maar in twee dae gereël.”

Mense het ver gery om die geleentheid te kon bywoon.

“Daar was selfs mense van Port Elizabeth [Gqeberha] wat die geleentheid bygewoon het.”

Die konsert het Kleinhans geïnspireer om ’n soortgelyke projek van stapel te stuur.

“Ons [Wys jou sTaal] beoog om ’n musiekkonsert op Erfenisdag, wat op 24 September vanjaar plaasvind, hopelik by die Afrikaanse Taalmonument te hou.”

Hy verduidelik dat daar egter nog baie water in die see moet vloei voordat so iets gefinaliseer kan word.

“Ons nooi mense uit om betrokke te raak in enige vorm ook al.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Windhond ·

Het ongelukkig nie die petisie onder oe gehad nie,maar sou dit defnitief geteken het

pieter ·

Die minister is siek , hy moet eerder aan hulle eie groot probleme werk .
Los die afrikaners se taal uit.

Hector ·

Een van ons groot digters – die Vlaamsgesinde priester Anton van Wilderode – het oor sy belewing van die Taalmonument, ‘zo schielijk liefgekregen’ (so skielik liefgekry), ‘n gedig geskryf om te wys daardie baken op die Paarlrots het ‘n groot indruk op hem gemaak. Wyle Van Wilderode was een van die genodigdes by die inwyding van die monument.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.