PTA-dagsorgmoeder vrygespreek

Linda Mans, die eienaar van ʼn dagsorgsentrum in Pretoria, is vrygespreek op aanklag dat sy in 2011 twee kinders in haar sorg aangerand het.

Die Pretoriase landdroshof het bevind dat daar, weens ʼn gebrek aan getuies, nie voldoende bewyse is dat Mans (37) van die Teddy Winks-dagsorgsentrum in Mountain View, Pretoria, aan die aanrandings verbind kan word nie, het Beeld berig. “Die blote feit dat die kinders in haar sorg gelaat is, beteken nie dat enige redelike hof haar skuldig kan bevind aan aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig nie,” het landdros Adriaan Bekker gesê.

Mans, wat onskuldig gepleit het op aanklag dat sy ʼn babadogtertjie en, ‘n maand later, ʼn babaseuntjie aangerand het, het aan die hof gesê sy het die kinders in iemand anders se sorg gelaat terwyl sy haar ma hospitaal toe geneem het.

Volgens die koerant het een van die kinders se ouers getuig dat hy kneusplekke op sy boudjies, lae rug, arm en bobene gehad het nadat hy by die dagsorgsentrum glo “gedissiplineer” is.

Die ouers van beide kinders het gesê hulle oorweeg ʼn siviele eis teen Mans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.