Pta-dieretuin betreur afsterwe van olifantkoei

Afrika olifantkoei en -kalf, Amboseli Nasionale Park, Kenya, Foto: © Art Wolfe/www.artwolfe.com

Die Nasionale Soölogiese Tuine van Suid-Afrika (NZG) betreur die afsterwe van Pumbi, een van sy olifantkoeie, berig LookLocal Centurion.

Sy is in 1985 in die Kruger Nasionale Park gebore en het op 28 April 1987 as ʼn wesie by NZG opgedaag. Twee weke gelede het veeartse by NZG vermoed dat Pumbi ʼn infeksie in haar uterus het en haar met ʼn kursus antibiotika begin behandel. Toe hulle die uterus later skandeer het, was daar egter geen teken van dié infeksie nie, maar sy het tekens van asemhalingsnood begin toon. Hulle het met haar medikasie voortgegaan, maar haar swak gesondheid het die behandeling belemmer. “Aangesien Pumbi se kosinname sporadies was, was dit moeilik om medikasie toe te dien,” het dr. Ian Espie, NZG se hoofveearts gesê. “Met tye was dit moontlik om dit in lekkernye weg te steek, maar die [verlede] naweek se koue en reënweer het haar toestand versleg.”

Op Dinsdagoggend [3 April] om 07:45 het Pumbi in haar hok inmekaar gesak. Die voorlopige oorsaak van dood blyk bronchi pneumonie te wees, maar ʼn nadoodse ondersoek sal die diagnose bevestig. Pumbi sal onthou word as die eerste olifantkoei wat geboorte geskenk het by die NZG. Haar kalf, Dineo, wie se naam deur luisteraars van ʼn gewilde plaaslike radiostasie gekies is, is op 21 Maart 2011 gebore, maar het drie weke later gesterf. “Ons personeel het alles gedoen wat hulle kon vir Pumbi, en het selfs die aande met haar spandeer,” het dr. Clifford Nxomani, die NZG se besturende direkteur gesê. “Sy het ʼn spesiale plek in my hart en elke keer wat ek verby haar hok stap, sal ek haar onthou.”

Klik hier vir die oorspronklike artikel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.