PTA-geoloog hou vol hy is onskuldig op vrou se moord

Cobus Prinsloo

Cobus Prinsloo (66), ‘n geoloog van Pretoria, het Maandag daarop aangedring dat hy onskuldig is op sy eksvrou se moord, net nadat hy skuldig bevind is.

Prinsloo het in die Pretoriase hooggeregshof glo ontspanne voorgekom en het selfs geglimlag terwyl hy getuig het in ‘n aansoek om sy borg te verleng terwyl hy vir vonnisoplegging wag. Hy het aan die hof gesê hy sou lankal gevlug het, indien hy geglo het dat hy skuldig is. “Maar ek glo dit nie, ek verwerp dit in geheel. As ek wou hardloop, sou ek lankal weg gewees het,” het hy gesê.

Regter Moses Mavundla het hom vroeër skuldig bevind aan die moord op sy eksvrou, Cordelia, in Oktober 2009. Cordelia was glo ‘n lugwaardin.

Prinsloo se tuinier, Lucas Moloi, is in 2011 tot 18 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy erken het hy het Cordelia vermoor deur haar twee keer agter haar kop met ‘n graaf te slaan. Die hof het Moloi se getuienis, dat Prinsloo hom R50 000 en ‘n huis aangebied het om sy vrou te vermoor, aanvaar. Mavundla het gesê Moloi kon niks daardeur bekom deur te getuig nie, aangesien hy reeds gevonnis is.

Die egpaar het glo in aparte huise op dieselfde kleinhoewe gebly ná hul egskeiding, aangesien hulle nie ‘n ooreenkoms kon bereik oor die verdeling van hul bates nie. Cordelia se ontbinde liggaam is in ‘n blombedding naby haar tuinwoonstel opgespoor nadat sy dae vantevore verdwyn het.

Die hof het Prinsloo se weergawe verwerp dat Moloi uit sy eie woede opgetree het omdat hy ontevrede was oor lone en oor sy werk aangespreek is.

Cordelia Prinsloo

Mavundla het getuienis aanvaar dat Prinsloo aan sy eksvrou se familie by die toneel gesê het dat sy “soos ‘n haas” doodgemaak is toe sy deur een slag agter in die nek, getref is. In daardie stadium was die liggaam reeds ontbind.

Die oorsaak van haar dood sou nie duidelik gewees het nie, en sou slegs tydens ‘n nadoodse ondersoek bekend geword het. Prinsloo het reeds geweet die oorledene is agter in die nek getref, wat aandui dat hy kennis oor haar moord moes gehad het, het Mavundla gesê. Hy het bygevoeg dat Prinsloo se bewerings dat hy onskuldig is, nie redelik moontlik die waarheid kan wees nie. Prinsloo het ook as getuie nie die hof beïndruk nie, en dit was duidelik dat hy sy vrou se moord noukeurig beplan het.

In sy getuienis om vir borg aansoek te doen, het hy volgehou dat hy onskuldig is. “In die eerste plek, ontken ek weereens die R50 000… Ek kan nie nou onthou of ek toe die geld gehad het om hom te betaal nie,” het hy gesê.
Prinsloo het ook aan die hof gesê dat hy nie sy paspoort kan oorhandig nie, aangesien werk in Suid-Afrika skaars was en dat hy sy inkomste verdien deur geologiese konsultasiewerk in Mosambiek, Zambië en Zimbabwe doen. Hy sê hy verlaat die land nooit vir langer as 10 dae nie, aangesien hy kanker het en naby sy dokters moet wees, alhoewel hy tans in remissie is. Hy het ook bygevoeg dat, alhoewel hy naby aftrede is, hy steeds verbande op twee eiendomme moet afbetaal en sy seuns moet ondersteun wat steeds studeer. Hy is glo betrokke by sy kerk en moet die “tyd uitkoop” om daardie verantwoordelikhede na te kom.

Mavundla het R30 000 borg toegestaan terwyl hulle vir die vonnisoplegging wag. Die uitsteldatum van die verhoor sal Dinsdag bepaal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yolanda da Camara ·

Ek volg hierdie saak n’ geruime tyd , en my persoonlike mening is dat Cobus Prinsloo nie skuldig is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.