PTA-landmerk vir “ʼn appel en ʼn ei” verkoop

Die Sanlam Middestad-gebou

Roux Shabangu se Sanlam Middestad-gebou in Pretoria is Woensdag vir ʼn skamele R66 miljoen op ʼn veiling verkoop.

Thaka Seboka, ʼn hooggeregshof balju wat die gebou se veiling waargeneem het, het gesê hy het uitgesien na “ʼn baie hoër syfer”. “Dit is ʼn landmerk-sakegebou in Pretoria se middestad, een van die ikoniese geboue. Ek het verwag om aanbiedinge in die omgewing van R150 miljoen of R200 miljoen te sien, nie hierdie skamele R66 miljoen nie. Dit is vir ʼn appel en ʼn ei verkoop. Wie ook al die gebou in die toekoms gaan koop, as Nedbank besluit om dit te verkoop, sal ʼn waardige belegging maak,” het Seboka gesê.

Nedbank is die koper wat die hamer op R66 miljoen laat val het. Die veiling is goed bygewoon. Die aanbod het met R65 miljoen afgeskop. Martin Phillip, die hoof van die bank se korporatiewe eiendomme-afdeling, het die wen aanbod ingedien.

Phillip het in ʼn kort toespraak ná die tyd gesê Nedbank het hom aangesê om die eiendom te bekom. “Alle verdere navrae sal deur die bank se hoofkantoor in Johannesburg beantwoord word,” het hy gesê.

Die gebou moes op ʼn veiling verkoop word nadat Shabangu (39) glo nie daarin kon slaag om paaiemente van die verband, wat Nedbank in Januarie 2011 aan hom toegestaan het, kon betaal nie. Hy het die gebou vir R220 miljoen gekoop en dit in sy maatskappy, Roux Poperty Fund, se naam geregistreer.

Shabangu het in Mei 2010 namens die polisie ʼn 10-jaar huurkontrak met die departement van openbare werke aangegaan.

Adv. Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, het bevind dat die voormalige polisiekommissaris, Bheki Cele, onregmatig onderhandelings met Roux Porperty Fund aangegaan het om die gebou te verhuur. President Jacob Zuma het Cele in 2012 afgedank.

Toe die perseel Woensdag verkoop is, het die 18-verdiepinggebou ʼn agterstallige verbandbedrag van R16 miljoen gehad. Die kantoortoring is tans ontruim en opknappingswerk daar is gestaak.

SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Franco Loots ·

Is die besigheid “Roux Poperty Fund”, “Roux Porpety Fund” of “Roux Property Fund”?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.