ʼn 27-jarige verdagte het Dinsdag in die hof verskyn nadat hy glo ʼn 28-jarige man van Pretoria Sondagoggend beroof en verkrag het.
LookLocal Pretoria Moot het Woensdag berig die 28-jarige slagoffer is glo Sondag omstreeks 02:00 in Steadlaan in Queenswood oorval, waarna die verdagte hom van sy selfoon beroof en na bewering verkrag het.
Lt. Linda Jerling, ʼn woordvoerder van die Moot-polisiestasie, het gesê die aanvaller was nie tydens die voorval gewapen nie.
“’n Inwoner het die slagoffer se hulpkrete gehoor en dadelik die Kilnerpark-sekuriteit ontbied. Die verdagte het weggehardloop, maar is kort daarna deur die sekuriteitsmaatskappy vasgetrek en in hegtenis geneem.” Paramedici het die slagoffer op die toneel behandel.
Die verdagte het Dinsdag in die hof verskyn op aanklagte van verkragting, roof en aanranding. Die saak word tans deur Sunnyside se eenheid vir gesin, familie en seksuele misdade ondersoek.
Bron: LookLocal Pretoria Moot