ʼn Man is ernstig beseer nadat hy Vrydagaand in Centurion deur weerlig getref is.
ʼn Woordvoerder van Netcare911, Jeff Wicks, sê die man is deur weerlig getref terwyl hy gehardloop het om ʼn bus te haal. Wicks sê volgens ooggetuies was daar ʼn skerp flits van lig voor die man na die grond geval het. Hy sê toe paramedici op die toneel aangekom het, het hulle die man op die grond gevind waar hy in die reën gelê het. Wicks sê die man het brandwonde aan sy gesig en arm opgedoen en is in ʼn ernstige toestand in die hospitaal opgeneem.