PTA-man skiet vermeende rower voor sy huis dood

Karel Liebenberg, ʼn inwoner van Rooihuiskraal, Pretoria, het Dinsdagaand ʼn vermeende rower voor sy huis doodgeskiet.

Mynhardt Meintjies, ʼn lid van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, het Woensdag aan Maroela Media bevestig Liebenberg het by sy huis gestop en uit sy Corsa-motor geklim om die veiligheidshek oop te maak. “Hy het ʼn silwer Subaru-motor sonder nommerplate agter sy motor sien stop,” het Meintjies gesê. “Die voertuig het vir hom verdag voorgekom en hy het sy eie gelisensieerde vuurwapen uitgehaal.”

Volgens Meintjies is Liebenberg ook hoof van die plaaslike buurtwag, en dra hy gevolglik te alle tye sy vuurwapen by hom.

“Volgens Liebenberg het ʼn passasier uit die voertuig geklim en ʼn vuurwapen op hom gerig. Omdat hy vir sy lewe gevrees het, het hy dadelik twee skote op die verdagte gevuur,” het Meintjies bygevoeg. Liebenberg het die verdagte raakgeskiet en die ander verdagtes het met die Subaru weggejaag.

Die polisie is ontbied en sers. Michiel Roos het die verdagte nog lewend op die toneel aangetref. Ruan Heinz, ʼn paramedikus en ook ʼn lid van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, het aan Maroela Media bevestig nooddienste is ontbied, maar die verdagte is, ondanks mediese sorg, op die toneel dood verklaar.

Meintjies het verder bevestig die verdagte se vuurwapen is op die toneel aangetref. “Daar was elf rondtes ammunisie in die wapen en een patroon was reeds in die vuurwapen se kamer.”

Maroela Media wag nog vir bevestiging van die polisie dat ʼn saak van poging tot kaping ondersoek sal word. ʼn Geregtelike doodsondersoek sal gedoen word.

Meintjies sê hulle vermoed dieselfde motor is twee weke gelede ook in die buurt as verdag aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Trudie ·

I like daar gedeur iets , maroela media moet opvolg en seker maak…

Mynies ·

Waaksaamheid red sy lewe In self beskermIng en die skurk sterf by die wyse wat hy ñ lewens bestaan probeer maak het..!

amy ·

Vermeende rower? Ek dink nie so nie. Hy was daar om te moor. Nou sal hy nooit weer kan moor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.