PTA-metropolisiebeampte sterf aan diens

ʼn Tshwane-metropolisiebeampte is Dinsdagaand doodgeskiet terwyl hy aan diens was.

Volgens Console Tleane, ʼn woordvoerder van die Tshwane-metro, het die voorval in Hebron, naby Ga-Rankuwa noord van Pretoria, plaasgevind.

“Drie beamptes is aangeval terwyl hulle die gebied gepatrolleer het,” het Tleane gesê. “Die beamptes het ʼn voertuig gewaar wat se ligte nie gewerk het nie. Hulle het die voertuig van die pad af getrek en was besig om ʼn boete uit te reik toe vier mans van omliggende huise aangestorm gekom en op hulle losgebrand het,” het Tleane gesê.

Een beampte is in die kop gewond. Die ander twee beamptes het teruggeskiet en een van die verdagtes gewond. Die verdagtes het egter daarin geslaag om weg te hardloop. Die beampte wat geskiet is, is later in die hospitaal dood.

Een van die verdagtes is later in Hebron in hegtenis geneem. Hy het op die polisie begin skiet, waarna die polisie teruggeskiet en hom gewond het. ʼn Tweede verdagte is aangekeer nadat inwoners hom gevang en geslaan het.

Die polisie is steeds op soek na die ander twee verdagtes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.