PTA-rower kom sy moses teë

ʼn Rower is Saterdag in Pretoria doodgeskiet nadat hy en medepligtiges ʼn winkel beroof en in ʼn skietery met die polisie betrokke was.

Volgens adjudant-offisier Annabelle Middleton, ʼn polisiewoordvoerder, het twee gewapende mans omstreeks 15:30 die Ajat-supermark in Waverley, Pretoria, binnegestorm terwyl ʼn medepligtige in ʼn wegkomvoertuig buite die winkel gewag het.

“Die mans het die twee winkeleienaars aangerand, van geld en selfone beroof en van die toneel gevlug,” het Middleton gesê. “Hulle het buite die winkel in ʼn veiligheidswag vasgehardloop en hom ook aangerand voor hulle in die wegkomvoertuig gespring en weggejaag het.”

Die polisie is ontbied en hulle het die voertuig in ʼn nabygeleë woonbuurt vasgetrek. Die drie verdagtes het uit die voertuig gespring en op die polisie begin skiet. Die polisie het teruggeskiet en een verdagte noodlottig gewond.

“Een verdagte is op die toneel in hegtenis geneem en die ander verdagte het weggekom. Die polisie het beslag gelê op van die gesteelde goedere, ʼn vuurwapen asook die voertuig wat tydens die rooftog gebruik is,” het Middleton gesê.

Die twee winkeleienaars en veiligheidswag het geringe beserings opgedoen. Die Villieria-polisie het ʼn saak van gewapende roof aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.