PTA-spitsverkeer erg ontwrig ná bus en voertuig bots

Verkeer is Donderdagoggend op die N1-hoofweg in, Pretoria erg ontwrig nadat ʼn voertuig teen ʼn passasiersbus gebots het. Drie mense is in die voorval beseer.

Drie bane was vir verkeer gesluit terwyl nooddienste die ongelukstoneel opgeruim het. Na wat verneem word, het verkeer tot by Stormvoëlweg, in Pretoria se Moot-omgewing, opgedam.

Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder van ER24, het aan Maroela Media gesê dit wil voorkom of ʼn Polo omstreeks 07:30 teen die kant van die bus gebots het. Die impak het veroorsaak dat die Polo gerol het. Geen ander voertuie was in die botsing betrokke nie.

“Die vrou wat die voertuig bestuur het, het matige beserings opgedoen. Slegs twee mense op die volgepakte bus het ligte beserings opgedoen. Al drie pasiënte is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling,” het sy gesê.

Die toneel was omstreeks 08:30 opgeruim.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.