Pta-straatname: Uitspraak voorbehou

Die hooggeregshof in Pretoria het Woensdagaand uitspraak voorbehou in die burgerregte-organisasie AfriForum se aansoek om ʼn interdik rakende Pretoria se straatname.

Regter Bill Prinsloo het Woensdagaand omstreeks 21:00 aangekondig dat hy Vrydag uitspraak sal lewer. AfriForum doen aansoek om ʼn interdik om die Tshwane-metroraad te verhoed om die ou straatname van padborde te verwyder en om die ou name wat reeds van die borde verwyder is, terug te plaas. AfriForum se aansoek is gebring hangende ʼn hersieningsaansoek rakende die verandering van die straatname. Die metroraad het in Maart 2012 besluit om 27 straatname in Pretoria te verander. Nuwe padborde is kort hierna aangebring met die nuwe straatname sowel as die ou name, met ʼn rooi streep deur. Die Tshwane-metroraad het egter vroeër die maand die ou name begin afhaal nadat Kgosientso Ramokgopa, burgemeester van Tshwane, in sy provinsiale staatsrede gesê het dit kan verwyder word aangesien dit reeds vir ʼn periode van ses maande op die padborde vertoon is. “Ons het daai (ses maande) periode oorskry. Nou is dit tyd dat Lilian Ngoyi (straat) tot lewe kom en Van der Walt (straat) tot ruste kom,” het Ramokgopa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.