PTA-vlieënier oorleef noodlanding

Foto: ER24

ʼn Vlieënier het ongedeerd daarvan af gekom nadat hy omstreeks 10:00 Vrydagoggend ʼn noodlanding in ʼn veld naby die Wonderboom-lughawe, in die noorde van Pretoria, moes uitvoer.

Volgens Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder van ER24, het paramedici aanvanklik na ʼn toneel naby die N1-snelweg se Walmannsthal-afrit gejaag, ná gerugte dat ʼn helikopter daar neergestort het. Op pad na die toneel is hulle na ’n oop stuk veld langs die N4-snelweg naby die Dr. Swanepoel-afrit herlei waar hulle op die vliegtuig afgekom het.

“Die vlieënier het ongeskonde in die veld rondgeloop. Hy het gesê hy het enjinprobleme ondervind toe hy wou land en moes gevolglik ʼn noodlanding uitvoer. Hy het gesê die oop stuk veld het na die mees geskikte terrein gelyk om die noodlanding uit te voer. Hy was die enigste persoon in die vliegtuig en dit was nie nodig om hom na ʼn hospitaal te neem nie,” het Jackson gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.