PTA’ner dood, drie beseer ná boot omslaan

Foto: schulphoek.co.za

Foto: schulphoek.co.za

ʼn 29-jarige man van Pretoria is Dinsdag dood en drie beseer nadat ʼn katamaran-skiboot sowat 150 m van die kus by Schulphoek naby Hermanus, omgeslaan het, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), gesê.

Die vier persone aan boord is almal van Pretoria en hulle het glo teruggekeer nadat hulle kreef gaan uithaal het.

Die NSRI het om 13:05 ʼn oproep ontvang nadat rooi noodfakkels van die boot af lanseer is. Die NSRI, die polisiediens, die noodreddingspan van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, EMR privaat ambulansdiens en die brand- en reddingsdiens van die Overberg het op die oproep reageer.

ʼn Lid van die publiek het in die see ingegaan om die 29-jarige man se liggaam uit te haal uit vrees dat dit verder in die see meegesleur sou word.

ʼn 47-jarige man, wat by die boot gebly het, is met ʼn privaatboot, C Michelle, gered. Hy is na die seereddingsvaartuig oorgeplaas en na veiligheid gebring.

ʼn 19-jarige en ʼn 12-jarige seun het na die kus geswem en hulle was besig om op die rotse op die kuslyn te klim toe die reddingspan hulle bygestaan het.

Die drie oorlewendes is na ʼn hospitaal geneem met beserings soos gekraakte ribbes, snyplekke, kneusplekke en skok.

Die liggaam van die 29-jarige man is in die sorg van die polisie se forensiese patologiediens gelaat.

Volgens die NSRI het die boot moontlik in die groot golwe omgeslaan toe dit naby aan die kuslyn gekom het. Die boot het ook uitgespoel.

Die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek gelas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.