Publiek kan nie saampraat oor Secunda-naamsverandering nie

Sasol se aanleg in Secunda.

Inwoners van die dorp Secunda in Mpumalanga is hoogs ontstoke nadat die munisipaliteit vir die tweede keer ʼn openbaredeelname-vergadering oor die dorp se beplande naamsverandering gekanselleer het.

In reaksie hierop het die burgerregte-organisasie, AfriForum, die Govan Mbeki-munisipaliteit in ʼn brief versoek om sensitiwiteit aan die dag te lê in sy herhaalde kansellasie van openbaredeelname-vergaderings oor die dorp se moontlike naamsverandering. Sasol 2 en Sasol 3 se aanlegte is in dié dorp geleë en verskeie werknemers van Sasol gaan in Secunda tuis.

“Lede van die publiek het ’n dringende behoefte daaraan om met die munisipaliteit te kommunikeer en om hul menings ter oorweging voor te lê, maar die proses word swak geadministreer,” het Tokkie Reinecke, voorsitter van AfriForum Secunda, gesê.

Benzi Soko, die woordvoerder van die Govan Mbeki-munisipaliteit, het Vrydag aan Maroela Media gesê een van die openbaredeelname-vergaderings moes uitgestel word omdat daar ʼn Mynbou-bosberaad in Middelburg was wat die burgemeester en die burgemeesterskomitee moes bywoon. Dit is daarna weer uitgestel toe daar belangrike interne sake plaasgevind het waaraan die burgemeester en burgemeesterskomitee moes aandag skenk. “Die vergaderings is gevolglik uitgestel omdat die partye nie by die vergaderings kon wees nie. Ons vergader vandag om ʼn nuwe datum vir die vergadering te bepaal. Dit behoort volgende week plaas te vind,” het Soko gesê.

AfriForum het gesê hulle sal die munisipaliteit se nakoming van al die bepalings oor openbare deelname noukeurig monitor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.