Publiek ontstoke oor wildtuin-olifant; slagoffer sterk aan

'n Olifant in die Nasionale Krugerwildtuin. Foto: krugerpark.co.za

‘n Olifant in die Nasionale Krugerwildtuin. Foto: krugerpark.co.za

Verskeie mense was ontstoke oor die Kruger-wildtuin se besluit om ʼn aggressiewe olifantbul van kant te maak wat ʼn paartjie Maandag aangeval het.

“Dit was heeltemal onnodig om die olifantbul van die Kruger-wildtuin, wat ʼn motor beskadig en ʼn persoon beseer het, van kant te maak,” het Robbie Botes op SANParke se Facebook-blad geskryf, het ʼn SAPA-korrespondent berig. “SANParke moet aan ons die besonderhede verskaf van die persoon wat dié besluit geneem het en op watter bestuursvlak hierdie onnosele besluit geneem is.”

“Dit is hulle [die olifante] land en ons is die oortreders!” het Lous-Roger Higham geskryf.

Morne Theron het egter met die besluit saamgestem. “Ons ‘besoek’ wel hulle land, maar ek is seker dat die regte kanale gevolg is om die besluit uit te voer. Ons, as besoekers, moet nog steeds ʼn veilige park kan besoek en dit is jammer, maar die bul sou dit heel waarskynlik weer gedoen het,” het Theron geskryf.

ʼn Paartjie is beseer toe ʼn olifantbul hul motor naby die N’waswitshaka-watergat, suid van die Phabeni-pad, aangeval het. “Die olifant het ʼn geruime tyd lank voor die paartjie se motor gestap terwyl hulle dit van agter verfilm het,” het William Mabasa, woordvoerder van die wildtuin, in ʼn verklaring gesê. “Die olifant het skielik stilgestaan, omgedraai en op die voertuig, wat in daardie stadium stilgestaan het, afgestorm. Die olifant het hulle bestorm, die voertuig aangeval en omgekeer.”

ʼn Verbygaande motoris het hulle te hulp gesnel. Die afdelingsbewaarder van Pretoriuskop is ontbied en die wildtuin se bedryfsbevelvoerder is in kennis gestel. ʼn Helikopter is na die toneel ontbied en het die paartjie na die Skukuza-kamp geneem vir mediese behandeling. Hulle is daarna na die Medi-Clinic privaathospitaal in Nelspruit geneem.

Mabasa sê die vrou is ernstig beseer toe een van die olifant se tande haar agterbeen oopgeskeur het. Die manlike toeris het geringe beserings opgedoen.

“Die olifantbul is van kant gemaak en was in ʼn fase waartydens hul testosteroonvlakke baie hoog styg, omdat hulle wil paar,” het Mabasa verduidelik. “In dié fase kan olifante aggressief optree, selfs wanneer hulle nie bedreig word nie.” Hy het bygevoeg die olifant was moontlik ook aggressief weens ʼn besering wat hy vroeër opgedoen het.

Berdine Malan, woordvoerder van die Medi-Clinic in Nelspruit, het gesê die vrou is in ʼn stabiele toestand. “Die pasiënt is stabiel en sterk aan in die algemene saal. Die dokter sal teen Donderdag besluit wanneer sy ontslaan kan word.”

Die paartjie se identiteit word weerhou totdat hul families in kennis gestel is.

Lees ook:
Olifant van kant gemaak ná dit motor in Krugerpark aanval

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

At ·

Nou wonder ek mos wie se land hierdie nou eintlik is, hier word beweer dis die olifante se land, in ander dele word beweer dis die blouapies se land, in die kaap word beweer die die groot bobbejane se land, die ANC beweer dis hulle land ens ens. Waar pas ons ander mense dan in?

Michiel ·

Die stuurlei aan wal het altyd die beste raad en dit is nogal moeilik om hulle te oortuig om sulke besluite aan die mense wat weet oor te laat.
Ek verneem die twee gaan nou vervolg word.Is daar reels vir besoekers aan die Park van hoe hulle moet optree in elke geval as hulle by ‘n sekere soort dier kom en stilhou.Daar was nie in my tyd toe ek die Park besoek het nie,maar nouja dit was lank gelede.Op my ouderdom is die versugting nog net daar om weer daar te kan kom.
Al wat ek weet is hoe om vinnig weg te kom van ‘n olifant.Dit het destyds gebeur in die ou Suid wes in die jaar 1979.So dit wys vir jou ‘n dier bly ‘n dier en jy moet nie in sy “Space ” oortree nie, soos die jonges se?.respekteer hom want hy is baie groter as jy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.