Puik vermaak op die planke

Ray Cooney se weghol-treffer, My Vrou se Man se Vrou, met Tobie Cronjè en Hannes Muller, van Groet die Grotman-faam, toer tans regoor die land met speelvakke in Kaapstad, Pretoria, die InniBos Kunstefees op Nelspruit en Gauteng se Oos-Rand.

Ray Cooney is ’n meester van die klug. Sy Run for your Wife speel al langer as 25 jaar in Londen se West End en Peet van Rensburg het ’n Afrikaanse vertaling gedoen in My Vrou se Man se Vrou.

Die twee hoofrolle word deur Muller (John Smith) en Cronjè (Stanley Gardner) vertolk, ongetwyfeld twee van Suid-Afrika se beste komiese akteurs.  Voeg daarby name soos Lelia Etsebeth (Mary Smith), Heidi Mollentze (Barbara Smith), Hannes Brümmer (Joernalis/Bobby Franklyn), Duncan Johnson (Speursersant Porterhouse) en Wynand van Vollenstee (Speursersant Throughton), en jy het ’n trefferproduksie op hande.

Die hoofkarakter in My Vrou se Man se Vrou is John Smith, ’n Londense taxibestuurder wat saam met sy vrou Mary in Highgate woon … en ook met sy vrou Barbara in Finchley, net vier minute uitmekaar.  Natuurlik is die twee mevroue Smith salig onbewus van mekaar se bestaan, aangesien John sy ongereelde werksure gebruik as ’n verskoning om sy dubbele lewe weg te steek. Maar ’n ongeluk en ’n verkeerde adres veroorsaak ’n kettingreaksie en John moet bontstaan om te keer dat sy geheim op die lappe kom. Om sake te vererger, moet hy sy nuuskierige bure, ’n vasberade joernalis en twee agterdogtige polisiemanne ontduik.

Die produksie het onlangs uitverkoop op vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees en Tobie Cronjè is benoem vir ʼn Kanna-toekenning as Beste Akteur vir sy rol as Stanley Gardener.  Die toerprogram lyk soos volg:

 

  • Die Staatsteater Drama, Pretoria | 29 Mei tot 10 Junie 2012
  • Laeveld Laerskool, InniBos Nasionale Kunstefees, Nelspruit | 26 tot 30 Junie 2012
  • Marcellus-teater, Emperor’s Palace, Kemptonpark | 3 Julie tot 12 Augustus 2012
  • KunsteKaap-teater, Kaapstad | 25 September tot 5 Oktober 2012

Besprekings kan by Computicket gedoen word by 0861 915 8000 of besoek hulle webwerf by www.computicket.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.