PUK-groet: Departement sê koppe gaan rol

Gwebinkundla Qonde. Foto: Phillip Bruwer

Gwebinkundla Qonde. Foto: Phillip Bruwer

Die departement van hoër onderwys het Dinsdag tydens ʼn perskonferensie in Pretoria gesê hulle neem kennis van berigte oor gebeure op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom kampus, en veroordeel dit ten sterkste.

Gwebinkundla Qonde, die departement se direkteur-generaal, het namens die minister, dr. Blade Nzimande, die media in Pretoria toegespreek. “Ons neem met kommer kennis van ʼn berig en foto’s wat in Beeld van 21 Februarie 2014 gepubliseer is oor oriëntasie-aktiwiteite by die universiteit,” het Qonde gesê. “Die foto’s wat saam die berig gepubliseer is, wys eerstejaarstudente in uniforms wat as ʼn eenheid soos troepe marsjeer en, die ontstellendste, ʼn ‘Heil Puk!’ Nazi-tipe fascistiese saluut uitvoer.”

Qonde het gesê die bestuur van die universiteit het ná die berig aan die departement bevestig die foto’s is grepe uit ʼn langer video waar die studente hul primaria begroet en dat dit uit konteks gehaal is en alhoewel dit soos ʼn Nazi-saluut voorkom, dit glad nie die geval is nie.

“Alhoewel hulle om verskoning gevra het as dit enigiemand beledig het, het hulle aangedui dat dit deel is van ʼn tradisie waaraan die eerstejaarstudente deelneem en nie deel is van ontgroening nie.”

Qonde sê egter dit is die departement se siening dat sulke optrede glad nie onskuldig is nie en dat dit slegs as onaanvaarbare optrede beskryf kan word. “Nazi-gebare beeld ʼn tydperk in die wêreld se geskiedenis uit wat onderdrukking, vervolging en ‘n paar van die ergste gruweldade aan die mensdom simboliseer.”

Hy het gesê dit is die departement se doelwit om verantwoordelike inwoners en toekomstige leiers te ontwikkel wat regverdig en vrydenkend is en wat hulself verbind tot die bou van ‘n samelewing wat vry is van onverdraagsaamheid en onreg. “Hierdie gebare stem nie met ons doelwit ooreen nie, en is ook nie sinoniem met die waardes van ons land nie.”

Volgens die departement is dit nie die eerste keer dat sulke voorvalle by die PUK-kampus opduik nie. “Na voortdurende ontwrigting by die NWU se Mafikeng-kampus, het die voormalige minister van onderwys, Naledi Pandor, in 2008 ʼn taakspan saamgestel om te bepaal tot watter mate die universiteit daarin geslaag het om die beoogde doelwitte van die samesmelting te bereik en watter stappe gedoen is om seker te maak dat dit suksesvol sal wees,” het Qonde verduidelik. “Die taakspan is tydens sy ondersoek ingelig dat kulturele praktyke in die koshuise plaasvind wat rassisties van aard is en dat die oriëntasie van eerstejaarstudente in sommige gevalle onaanvaarbare argaïese praktyke insluit wat deur middel van stilswye deur die bestuur goedgekeur word. Die universiteit se bestuur het destyds die bevindinge verwerp en gesê dat sulke praktyke intern deur die universiteit se tugprosesse hanteer word.”

Pandor het ná die rassistiese voorval by Reitz-koshuis ʼn kommissie op die been gebring om die transformasie in hoëronderwysinstellings te ondersoek. Aldus die studie is daar ʼn algemene verskynsel by Afrikaans-mediuminstellings, wat NWU se Potchefstroom-kampus insluit, waar sterk hiërargiese strukture teenwoordig is. “Senior studente het baie mag teenoor eerstejaarstudente en dit word in ontgroeningseremonies uitgebuit. Eerstejaars moet gewoonlik deelneem aan verskeie aktiwiteite wat hul karakters afkraak. Die kommissie het na die Reitz-voorval bevind dat enige ontgroeningsaktiwiteit verban word, selfs al veroorsaak die ontgroenings geen fisiese skade aan studente nie.”

Die minster van hoër onderwys het glo in April 2010 die NWU versoek om ʼn verslag op te stel oor die implementering van die taakspan se voorstelle. Die NWU het glo ʼn Menseregtekommissie gestig wat bewerings oor voorvalle van teistering, rassisme, xenofobie en talle ander sosiale euwels ondersoek.

Qonde het gesê soortgelyke bewerings het weer aan die lig gekom toe Thabang Makhoang, ʼn student aan die NWU, tydens ʼn waatlemoenfees by die PUK-kampus op 21 Januarie 2012 verdrink het. “Die universiteit se bestuur het die geleentheid as ʼn kulturele speletjie afgemaak waar studente mekaar ‘speels met waatlemoenskille smeer’ en daarna mekaar met met tuinslange afspuit of gaan swem,” het Qonde gesê. Die departement het dr. Theuns Eloff, die universiteit se rektor, opdrag gegee om die verdrinking te ondersoek en om ʼn omvattende verslag op te stel. Dié verslag was nie na wense nie en die Menseregtekommissie (MRK) het die ondersoek oorgeneem.

Die MRK se verslag om te bepaal of ontgroeningseremonies steeds by die kampus plaasvind is nog nie voltooi nie.

Aldus Qonde het ernstige bewerings aan die lig gekom dat daar met ooggetuies ingemeng is tydens die universiteit se ondersoek oor die verdrinking. Op aandrang van die departement is die Valke ook deur die minister van polisie, Nathi Mthethwa, by die ondersoek betrek. “Die minister van hoër onderwys wag nog vir die uitslag van die Valke se verslag.”

Qonde het ʼn gedeelte van ʼn brief van Aldred Genade, ʼn senior akademikus by die universiteit aangehaal wat sê dat ʼn gebrek aan rasse-diversiteit ‘n groot struikelblok vir transformasie vorm.

Hy het ook gesê die universiteit het in Februarie vanjaar glo dr. Ingrid Tufvesson, uitvoerende adviseur oor transformasie en diversiteit, afgedank nadat sy na bewering die universiteit se transformasiebeleid bevraagteken het. Sy is in 2011 aangestel.

“Die departement het ook onlangs inligting ontvang dat daar ʼn kultuur van intimidasie en teistering heers en dat enige werknemer wat hulself uitspreek teen wanpraktyke by die universiteit, geviktimiseer word,” sê Qonde.

“Dit blyk uit die jongste voorval dat die universiteit se bestuur die minister in 2010 mislei het toe hulle verslag moes doen oor hul vordering met transformasie. As die voorval, waaroor Beeld berig het, slegs deur ʼn paar studente gedoen is sou die universiteit vergewe kon word, en sou dit as ʼn geïsoleerde voorval gesien kon word. Maar die aktiwiteite het in volle swang plaasgevind en is selfs op YouTube gelaai vir die hele wêreld om te sien,” sê Qonde. “Hierdie voorval is klaarblyklik deel van ‘n algemene praktyk wat poog om deur die universiteit se bestuur en raad aanvaar te word as deel van die Pukke se kultuur.”

Die departement het die universiteit opdrag gegee om ʼn volledige verslag oor die aangeleentheid op te stel. “Die universiteit het Maandag dié verslag by die minister ingedien. Die minister bestudeer tans die verslag en daar sal verdere stappe gedoen word indien dit nodig is. Ek moet beklemtoon dat die universiteit nie hulself moet verduidelik oor die situasie nie, maar moet aandui wat hulle gaan doen om die kwessies aan te spreek.” Indien persone skuldig bevind word, sal hulle uit die universiteit geskors word.

“Die gebruik van die Nazi’s se ‘Sieg Heil’-saluut word deur senior personeel afgemaak as onskuldige pret. Dit is onaanvaarbaar. Selfs ná alles in die media uitgekom het, dink mense dit is ʼn grap en hou hulle nog aan daarmee. Dit is nie ʼn grap nie. As die universiteit aanhou om sulke tradisies te laat voortbestaan, doen dit nie net skade aan sy beeld nie, maar ook aan hoër onderwys in die algemeen,” het hy bygevoeg. “Universiteite moet ʼn plek wees waar ons studente leer om krities te dink, en nie net volgelinge te wees nie. As hulle die instellings verlaat en arrogant, bevooroordeeld en oningelig is oor basiese menseregte, het ons hulle gefaal. As hulle die wêreld ingaan en dink dit is aanvaarbaar om die Nazi-saluut te doen en “Heil PUK!” te skree, het ons hulle gefaal.”

Die Uitvoerende Komitee (UK) van die NWU-Raad sal op 5 Maart 2014 vergader. “Tydens hierdie beplande buitengewone Raadsvergadering sal die verslag wat aan die minister voorgelê is, die interne dissiplinêre verslae oor beweerde menseregteskendings, die verklaring van die departement, sowel as enige ander ondersteunende dokumentasie bespreek word,” het dr. Theuns Eloff, visekanselier van die NWU, in ʼn verklaring gesê. “Besonderhede van die stappe wat deur die NWU geïmplementeer sal word in reaksie op die onlangse gebeure sal aangekondig word ná afloop van die beplande Raadsvergadering.”

Om die verslag van die NWU te lees wat op 24 Februarie 2014 aan die minister voorgelê is, klik hier.

Lees ook:
NWU-raad: ‘Ons sal nie menseregteskendings duld nie’
Puk-groet: NWU-bestuur moet dringend afgedank word – HETN
Premier reageer op Puk-groet
Puk-groet: Twitter-vermaak terwyl storm woed
Debat oor Puk-groet: ‘n G*tslag vir Afrikaans?
Puk-rektor sê oor ‘Nazi-saluut’

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eugenie ·

Wanneer rol Malema, Zuma en Kie se koppe oor daardie gebalde vuisies en gewraakte lied? Kry julle prioriteite in orde, Los die PUKKE. Heil PUK! net omdat ek kan.

PD Rautenbach ·

Plaas dat die ANC korrupsie in eie geledere uitwis – van heel bo tot heel onder in die struktuur, luister hulle na n patetiese berig in n koerant, met bedenklike moetiewe, sonder om self na die hele sogenaamde groete te gaan kyk. as n mens na die video kyk kan jy sien: arme Beeld en Arme depertement. sowat van propaganda.

groetnis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.