Puk-student wat verdrink se naam bekendgemaak

Die student wat Saterdagaand by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus in ʼn swembad verdrink het se naam is Maandagmiddag bekendgemaak.

Die universiteit het die eerstejaar-ingenieurstudent geïdentifiseer as Thabang Makhoang (19) van Wolmaransstad. Die rektor van die kampus, prof Herman van Schalkwyk, het vroeër vandag met Makhoang se ma en familie gepraat nadat die universiteit hulle na Potchefstroom vervoer het. Van Schalkwyk sê die familie is baie hartseer en emosioneel. Makhoang se naasbestaandes ontvang tans berading van sielkundiges by die universiteit.

Makhoang het Saterdag tydens die jaarlike vrugtefees – waar studente waatlemoene eet en mekaar daarmee smeer – verdrink. Die studente is na afloop hiervan die geleentheid gegee om in die universiteit se swembad te spring om hulle skoon te was. Die koshuise het glo een vir een ‘ʼn beurt gekry om die swembad te gebruik. Makhoang was in die Ratau-manskoshuis en het saam nagenoeg 77 ander studente in die swembad gespring. Hulle is glo hierna terug koshuis toe waar daar later die middag opgemerk is ʼn dat Makhoang vermis word. Sy liggaam is omstreeks 18:30 Saterdagaand deur ʼn groep senior studente gevind. Die polisie doen ’n geregtelike doodsondersoek. Makhoang se familie het intussen gevra dat hulle privaatheid gerespekteer word en gesê hulle sal geen onderhoude aan die media toestaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.