Puk-studentredakteur glo oor koshuistrots aangerand

Kevin du Plessis. Foto: Facebook

Kevin du Plessis. Foto: Facebook

Kevin du Plessis (23), die redakteur van Wapad, NWU-Pukke se kampuskoerant, is Sondagoggend in die vroeë oggendure aangerand, vermoedelik deur ʼn medestudent wat beweer het Du Plessis het nie “koshuistrots” nie.

Die aanval hou moontlik verband met ʼn artikel wat die Wapad onlangs oor wrede ontgroening ontbloot het. Maroela Media het op 29 Mei ook die artikel gepubliseer (lees meer hier).

Du Plessis het Maandag aan Maroela Media gesê die aanval het Sondagoggend omstreeks 04:00 plaasgevind by ʼn bekende kuierplek in Potchefstroom, Bourbon Street. “Ons was Saterdag by die dam om ʼn vriend se 21ste verjaardag te vier en is later na Bourbons toe omdat dit al plek was wat oop was,” het hy gesê. Du Plessis en sy vriend het daar ʼn meisie ontmoet en toe die kuierplek om 04:00 toemaak, het hulle verder in die parkeerarea gesels.

“Daar in die parkeerarea het ʼn tweedejaarstudent wat ʼn inwoner van Veritas-manskoshuis is, my rondgestamp en onder andere aanmerkings gemaak dat ek nie koshuistrots het nie. Dit was skynbaar hoofsaaklik omdat die ontgroening waaroor ons berig het, op Veritas-koshuis van toepassing was.”

Die student het Du Plessis glo weer gestamp, waarna hy geval het. Du Plessis het opgestaan, waarna die student hom in die gesig geslaan het. Du Plessis het glo uit selfverdediging teruggeslaan. Die geveg is daarna deur omstanders opgebreek.

Du Plessis het Sondag ʼn klag van aanranding by die Potchefstroom-polisie teen die student aanhangig gemaak. Hy het ook ʼn interne grief by die kampus ingedien.

“Ek wil nie vir die student moeilikheid maak nie. Ek wil net ʼn standpunt inneem teen die kwansuise ‘koshuistradisies’ wat by die studente indoktrineer word. Die ‘ontgroening-tradisies’ en die ‘koshuistrots’ word deur ouer studente op nuwe studente afgedwing, en ek wil dit ontbloot, want hulle word die slagoffers,” het Du Plessis gesê.

Prof. Johannes Froneman, verbonde aan die NWU-Pukke se Skool vir Kommunikasiestudies, het Maandag sy mening oor kampusmediavryheid op Facebook gedeel. Hy het die aanval oor “koshuistrots” bevestig en gesê Du Plessis is “die braafste studenteredakteur wat ek die afgelope 23 jaar op die Puk-kampus gesien het”. Hy het gesê Wapad is op die koop toe gestaak, waarskynlik tot die einde van die jaar, kwansuis omdat hulle R80 000 skuld. “’n Versoek dat ʼn storie oor die aanval op die internet geplaas kon word, is deur die direkteur van bemarking en kommunikasie van die hand gewys. Hierdie is alles in lyn met ander gebeure die afgelope maande en bevestig dat vryheid van spraak op die Puk-kampus ‘n erge aanslag beleef. Moet ons as dosente regtig hieroor swyg?” Froneman het gesê die voorval word as ernstig beskou.

Klik hier om NWU-Pukke se kommentaar te lees.

Intussen het Maroela Media Saterdagoggend ʼn e-pos ontvang van ʼn skrywer wat die joernalis vra of hy ooit self in ‘n koshuis was en of hy ooit self ontgroen is. “Want as jy was, sou jy geweet het dis alledaags, normaal en groot pret vir almal wat deelneem, selfs al eindig jou g*t op soos op daai foto wat kastig so ‘skokkend’ is. My g*t het omtrent een keer ‘n maand so gelyk na elke gangkamp in my eerstejaar – die ‘afkoel’ skinnydip in die rivier na die tugsaak is ‘n dekades-oue koshuistradisie en van die beste memories van my koshuislewe tot dusver. Ek het foto’s van al 20 ons eerstejaars wat in die rivier staan met ons g***e so pers, en glo my, ‘n ieder en elke een van ons is net trots op die feit dat ons dit soos manne kon vat en deel wees van ‘n challenge wat ons ouer broers, pa’s, selfs sommige se oupas en honderde Afrikaner mans sedert die 50’s aan deelgeneem en oorleef het.” [sic]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

33 Kommentare

jongste oudste gewildste
Trippie

En om ‘n persoon in die publiek te slaan beteken ook jy het geen selftrots en respek nie.

Ontgroening het perke.

Roftie

Eerstens wil ek aanvoer dat die skrywer eers mag stel `n persoon is aangerand indien dit so deur die hof beslis is. Punt nommer twee is die student wat volgens aantuigings aangerand is nie meer in die koshuis nie… Hy was vir 4 jaar `n inwoner en het sedertien privaat gegaan. Die voorval was een van `n meningsgeskil en dit was pleinweg net `n bakleiery tussen twee ouens… Media soek weereens sensasie… Die koshuis se naam word hier ingesleep en het niks daarmee te make nie… Die berig is suiwer naamskending en ek sal versigtig wees oor wat ek kwytraak… Lees meer »

Amandie van der Merwe

Wat soek hierdie studente 4 uur in die oggend op straat? Na 12 loop die duiwel rond….

Jan

Drie van my kinders was al deur die kampus en inwonders van verskillende koshuise – en is trots om deel te gewees het (koshuis trots en kampus trots). Dis net hartseer hoe een kant van storie so in die media uitkom en nie agtergrond van situasies en of aksies waar vendettas gevorm word deur ouens wat weier om deel te vorm van ‘n koshuis/kampus al is dit sonder ontgroening.

Deesdae se jeug ai…

Urkie

Kevin was vier jaar self in dieselfde koshuis gewees. Alhoewel ek nie saam stem met party goed wat in koshuise gebeur nie, is die meerderheid tradisies heeltemal onskuldig en bou dit karakter op ‘n positiewe manier. As julle wil hê die PUK moet lyk soos UJ of TUT Maroela Media, dan sal julle aan hou sulke eensydige berigte plaas. Die einste Piet Matipa het sommer gesê Veritas moet gesluit word as gevolg van een student se optrede, terwyl hy self in ‘n koshuis was waar eerstejaars hulle borste blou slaan van trots, tog piep hy niks oor Patria nie. In… Lees meer »