Puk-studentredakteur glo oor koshuistrots aangerand

Kevin du Plessis. Foto: Facebook

Kevin du Plessis. Foto: Facebook

Kevin du Plessis (23), die redakteur van Wapad, NWU-Pukke se kampuskoerant, is Sondagoggend in die vroeë oggendure aangerand, vermoedelik deur ʼn medestudent wat beweer het Du Plessis het nie “koshuistrots” nie.

Die aanval hou moontlik verband met ʼn artikel wat die Wapad onlangs oor wrede ontgroening ontbloot het. Maroela Media het op 29 Mei ook die artikel gepubliseer (lees meer hier).

Du Plessis het Maandag aan Maroela Media gesê die aanval het Sondagoggend omstreeks 04:00 plaasgevind by ʼn bekende kuierplek in Potchefstroom, Bourbon Street. “Ons was Saterdag by die dam om ʼn vriend se 21ste verjaardag te vier en is later na Bourbons toe omdat dit al plek was wat oop was,” het hy gesê. Du Plessis en sy vriend het daar ʼn meisie ontmoet en toe die kuierplek om 04:00 toemaak, het hulle verder in die parkeerarea gesels.

“Daar in die parkeerarea het ʼn tweedejaarstudent wat ʼn inwoner van Veritas-manskoshuis is, my rondgestamp en onder andere aanmerkings gemaak dat ek nie koshuistrots het nie. Dit was skynbaar hoofsaaklik omdat die ontgroening waaroor ons berig het, op Veritas-koshuis van toepassing was.”

Die student het Du Plessis glo weer gestamp, waarna hy geval het. Du Plessis het opgestaan, waarna die student hom in die gesig geslaan het. Du Plessis het glo uit selfverdediging teruggeslaan. Die geveg is daarna deur omstanders opgebreek.

Du Plessis het Sondag ʼn klag van aanranding by die Potchefstroom-polisie teen die student aanhangig gemaak. Hy het ook ʼn interne grief by die kampus ingedien.

“Ek wil nie vir die student moeilikheid maak nie. Ek wil net ʼn standpunt inneem teen die kwansuise ‘koshuistradisies’ wat by die studente indoktrineer word. Die ‘ontgroening-tradisies’ en die ‘koshuistrots’ word deur ouer studente op nuwe studente afgedwing, en ek wil dit ontbloot, want hulle word die slagoffers,” het Du Plessis gesê.

Prof. Johannes Froneman, verbonde aan die NWU-Pukke se Skool vir Kommunikasiestudies, het Maandag sy mening oor kampusmediavryheid op Facebook gedeel. Hy het die aanval oor “koshuistrots” bevestig en gesê Du Plessis is “die braafste studenteredakteur wat ek die afgelope 23 jaar op die Puk-kampus gesien het”. Hy het gesê Wapad is op die koop toe gestaak, waarskynlik tot die einde van die jaar, kwansuis omdat hulle R80 000 skuld. “’n Versoek dat ʼn storie oor die aanval op die internet geplaas kon word, is deur die direkteur van bemarking en kommunikasie van die hand gewys. Hierdie is alles in lyn met ander gebeure die afgelope maande en bevestig dat vryheid van spraak op die Puk-kampus ‘n erge aanslag beleef. Moet ons as dosente regtig hieroor swyg?” Froneman het gesê die voorval word as ernstig beskou.

Klik hier om NWU-Pukke se kommentaar te lees.

Intussen het Maroela Media Saterdagoggend ʼn e-pos ontvang van ʼn skrywer wat die joernalis vra of hy ooit self in ‘n koshuis was en of hy ooit self ontgroen is. “Want as jy was, sou jy geweet het dis alledaags, normaal en groot pret vir almal wat deelneem, selfs al eindig jou g*t op soos op daai foto wat kastig so ‘skokkend’ is. My g*t het omtrent een keer ‘n maand so gelyk na elke gangkamp in my eerstejaar – die ‘afkoel’ skinnydip in die rivier na die tugsaak is ‘n dekades-oue koshuistradisie en van die beste memories van my koshuislewe tot dusver. Ek het foto’s van al 20 ons eerstejaars wat in die rivier staan met ons g***e so pers, en glo my, ‘n ieder en elke een van ons is net trots op die feit dat ons dit soos manne kon vat en deel wees van ‘n challenge wat ons ouer broers, pa’s, selfs sommige se oupas en honderde Afrikaner mans sedert die 50’s aan deelgeneem en oorleef het.” [sic]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Trippie ·

En om ‘n persoon in die publiek te slaan beteken ook jy het geen selftrots en respek nie.

Ontgroening het perke.

Roftie ·

Eerstens wil ek aanvoer dat die skrywer eers mag stel `n persoon is aangerand indien dit so deur die hof beslis is. Punt nommer twee is die student wat volgens aantuigings aangerand is nie meer in die koshuis nie… Hy was vir 4 jaar `n inwoner en het sedertien privaat gegaan. Die voorval was een van `n meningsgeskil en dit was pleinweg net `n bakleiery tussen twee ouens… Media soek weereens sensasie… Die koshuis se naam word hier ingesleep en het niks daarmee te make nie… Die berig is suiwer naamskending en ek sal versigtig wees oor wat ek kwytraak as ek die skrywer was…

Jan ·

Dankie Roftie dat jy dit beter stel. Daar is altyd een of twee mense wat net eenvoudig nie inpas by ‘n georganiseerde studentelewe nie en dan vendettas teen koshuise en kampusse vorm.

Daar kan bietjie agtergrond gegee ook word van die Kevin outjie en organisasies waaraan hy behoort op kampus as modder so geslinger word.

Amandie van der Merwe ·

Wat soek hierdie studente 4 uur in die oggend op straat? Na 12 loop die duiwel rond….

Trippie ·

Die naglewe begin mos na 12 vir die jong geslag. Ek moes 22h00 saans tuis wees en ek was toe reeds 21.

Jan ·

Drie van my kinders was al deur die kampus en inwonders van verskillende koshuise – en is trots om deel te gewees het (koshuis trots en kampus trots). Dis net hartseer hoe een kant van storie so in die media uitkom en nie agtergrond van situasies en of aksies waar vendettas gevorm word deur ouens wat weier om deel te vorm van ‘n koshuis/kampus al is dit sonder ontgroening.

Deesdae se jeug ai…

Urkie ·

Kevin was vier jaar self in dieselfde koshuis gewees. Alhoewel ek nie saam stem met party goed wat in koshuise gebeur nie, is die meerderheid tradisies heeltemal onskuldig en bou dit karakter op ‘n positiewe manier. As julle wil hê die PUK moet lyk soos UJ of TUT Maroela Media, dan sal julle aan hou sulke eensydige berigte plaas.

Die einste Piet Matipa het sommer gesê Veritas moet gesluit word as gevolg van een student se optrede, terwyl hy self in ‘n koshuis was waar eerstejaars hulle borste blou slaan van trots, tog piep hy niks oor Patria nie. In sy dae as redakteur van die Wapad was hy gebalanseerd met joernalistiek, terwyl Du Plessis duidelik ‘n vêr linkse politieke agenda aanvoer. Daar is ‘n tendens onder ons kommunikasiedosente om te rebeleer teen enigiets wat te doen het met tradisionele Christelike waardes en in hierdie proses ondermyn hulle die regte van Christene self.

Wat my egter werklik pla, is hierdie beweging van “persoonlike joernalistiek”. Wat is die verskil tussen ‘n rubriek en persoonlike joernalistiek dan? Objektiwiteit gaan daarmee heen en hierdie dosente manipuleer die denkwyses van eerstejaars met hulle onderrig.

Dalk moet Maroela Media net self kom ondersoek in stel op kampus in plaas daarvan om sensasie te soek soos ‘n regte News24. As ‘n ondersteuner van Solidariteit en AfriForum, moet ek sê ek’s teleurgesteld in hierdie berig se ongebalanseerdheid.

Jan ·

Puik gestel Urkie! Dis hartseer hoe net een kant van ‘n storie altyd uitkom. Wat dan van ‘n algemene vergelyking met ander universiteite? Hier kort meer inligting.

Veritas ·

Julle opmerkings is oppervlakkig en netso eensydig soos die waarteen julle skop.

Veritas ·

En wat? Wat as sulke aanranding by ander universiteite gebeur? Dit verander niks aan die voorval nie. Onlogiese redenasie, Jan. Uiters onlogies. Al wat dit sal bewys is dat sulke wangedrag ook op ander kampusse plaasvind. Hoe verander dit die toedrag van sake. Probeer maar weer.

UJTrots ·

Ek het een probleem met jou aanmerkings hierbo, Urkie.
Ek is nie seker wat presies jy bedoel met “As julle wil hê die PUK moet lyk soos UJ…” nie? Maar die op die lys van top Universiteite in Suid-Afrika vir 2013 is UJ 9de geplaas, een plek bo NWU wat in die 10de plek geplaas is.
Dus, kan ek sien dat jy bedoel dat NWU meer soos UJ moet lyk. Beter.
As jy verwys na die hoelveelheid swartmense wat by UJ studeer en nie by NWU nie, kan ek nie verder na jou luister nie.
Ek weet net dat by UJ het ons vryheid van spraak, ons koshuise is nie gereeld in die nuus vir hulle tradisies nie, ons het top studente en is besig om die top navorsingsuniversiteit in Afrika te word. UJ het ‘n probleme wanneer dit kom by integrasie nie en enige student kan enige dag op kampus rondloop sonder om geoordeel te word soos ‘n pouse by ‘n plattelandse Hoërskool. UJ is ‘n voorbeeld van hoe die land kan lyk as mense bereid is om aan te beweeg en NWU is ‘n voorbeeld van hoe die land lyk wanneer mense nie bereid is om hulle oogklappe af te haal en aan te beweeg nie.
Ek wil nie veralgemeen nie en ek weet daar is studente op NWU wat die regte ingesteldheid het, maar daar is verseker ook die wat nog vasgevang en met oogklappe leef.

Urkie ·

Ek het glad nie na rasse verwys nie. Ek het verwys na taalbeleid en tradisie. Ek is nie ‘n rassis nie my vriend, maar as dit kom by studentelewe, slaan die PUK elke liewe universiteit in hierdie land uit die parkie uit.

As jy die enigste Afrikaanse tersiêre instansie in die land wil wegneem, bloot omdat 5% van die student Engels verkies, hoe regverdig is dit? As jy koshuise en tradisies wil wegneem omdat 5% kla, hoe ondemokraties is dit nie?

Veritas ·

Dié wat van mening is dat hierdie naamskending is, blyk duidelik min te weet van mediareg, meer spesifiek, wat laster behels. Boonop is die betrokke aanvaller se naam is nie eens genoem in die betrokke artikel nie. Wat het die feit dat die redakteur (nou ‘n nagraadse student wat m.i. waarskynlik die koshuislewe ontgroei het na 4 jaar) nie meer ‘n koshuislid is nie uit te waai met koshuistrots. Die redakteur en sy publikasie het hulle demokratiese plig gedoen deur vergrype in sekere koshuise te berig. Of wil dié wat sy optrede kritiseer eerder in een van ons buurlande gaan woon waar mense geweldadig aangerand word of met geweld gedreig word omdat hulle ander se menseregte-skendings aan die kaak stel. En Jan, meen jy nou Maroela Media is sensasioneel omdat hulle daaroor beriglewer? Omdat MM húlle reg tot vryheid van uitdrukking en ook mediavryheid nakom? En wat sou die beweerde aanvaller se verweer tog wees? Nee wat. Maak oop julle oë. Hierdie is nie Sjina, Zimbabwe of Noord-Korea nie. Hier word daar gepraat, voordat daar sommer net goedsmoeds appels geswaai word. Is ons dan nie almal beskaafd nie?

Urkie ·

Waar is die kommentaar van die koshuis? Van die universiteit? Van die person wat hom blykbaar aangerand het?

Daar is dalk iets soos mediareg. Maar daar’s ook ‘n etiese kode my vriend. Wanbalans in beriggewing.

Veritas ·

Hulle het versuim om tot dusver enige amptelike verklarings uit te reik. Dit is nie werk van ‘n joernalis om die instansie werk te doen nie. Vriend, jy het ‘n uiters verwronge beeld van joernalistiek. Ek hoop nie jy studeer dit of bevind jou in die beroep nie.

Veritas ·

Urkie. Jy is ook maar bang om name te noem. Boonop is jy besig om twee sake hier te verweef wat glad nie direk met mekaar verband hou nie. So, was jy nou die dag by die Pieter-Cillierslesing? Sê maar so. En terloops, Piet Matipa het “gebalansseerde joernalistiek” be-oefen omdat hy basies in baie opsigte gemuilband was deur die PUKKE se amptelike woordvoerders en reputasiebestuurders. Gepraat van “persoonlike joernalistiek”? Wat noem jy jou inskrywing?

EkSêNet ·

Dit se eintlik alreeds iets van die koshuis dat die inwoners selfs oud-koshuislede in n parkeerterein sal slaan.
“Mans”koshuis? Ek dink nie so nie.

Veritas ·

Urkie, hier’s jou amptelike verklaring nou. Lyk my die NWU hou darem ook nie van fisiese geweld nie:

Die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit se bestuur het met spyt kennis geneem van die geveg tussen twee studente in die vroeë oggendure van Sondag voor ‘n kuierplek in die dorp. As Universiteit spreek ons ons ten sterkste uit teen enige vorm van geweld (verbaal of fisies) en sal ferm in dié verband optree.

Die Universiteit is besig met interne ondersoek om vas te stel of ‘n betrokke koshuis en/of individue die universiteit en koshuis se goeie naam in oneer gebring het. Daar is ook ‘n privaat klag van aanranding by die polisie aanhangig gemaak. Vuisgevegte om geskille op te los is nie deel van die Universiteit se waardestelsel nie en behoort nie by leiers van môre nie.

Die Universiteit wil dit ook duidelik stel dat hy nie ten gunste is van enige negatiewe koshuistradisie, tradisies wat met vuisgevegte verdedig moet word of met intimidasie gepaardgaan nie. Ook dat ontgroeningspraktyke nie deel van die Universiteit se etos is of geduld sal word nie.

Die Universiteit het ook geen begeerte om die vryheid van spraak op die kampus te bekamp nie. Dit sal ongrondwetlik wees, teen alle waardes waarvoor universiteite staan indruis en kontra die opleiding wat universiteite aan joernalistieke studente verskaf. Die studentekoerant, Wapad, is ook nie gesluit nie. Hulle redaksie is net ingelig dat hulle eers uitstaande fakture moet inwin alvorens ‘n volgende koerant kan verskyn – dus goeie korporatiewe bestuur en deel van hulle opleiding. Indien hulle dit inwin, sal die Wapad weer verskyn.

Bogenoemde twee insidente het dus niks met mekaar te doen nie en is dit glad nie soos beweer word ‘n poging om die koerant te muilband nie.

Urkie ·

Hoe kan ek ‘n opinie oor joernalistiek ondersteun as die persoon, einste Mnr Pieter Cilliers, hoegenaamd geen ervaring in die joernalistieke veld het nie? Hy’s nie ‘n joernalis nie, was nog nooit regtig nie. Nou wil hy kom praat met kommunikasiestudente asof hy enigsins ‘n posisie van aansien het in die gebied?

En nee, ek was nie daar nie, bloot omdat ek glo homoseksualisme en Christenskap nie versoen kan word met mekaar nie. Ek haat nie atëiste nie, ook nie gays nie, ook nie Moslems of Boedhiste nie. Ek het wel iets teen skynheiliges. As jy ‘n Christen wil wees, bely ten minste dit wat in die Woord staan. Moenie gaan staan en jou eie perspektiewe vermeng met ‘n geloof en dit dan die absolute vorm van Christenskap noem nie.

My inskrywing is ook nie bedoel om ‘n berig te wees wat lesers kans gee om hulle eie idees te kry of opinies te vorm oor ‘n saak nie, dis ‘n persoonlike mening, soos ‘n rubriek. Wanneer ‘n persoonlike mening egter in ‘n berig voortspring, het ons te doen met ‘n CNN-agtige Piers Morgan-tipe “joernalistiek” en kan jy dit mos nie meer ‘n berig noem nie.

En nee, ek gaan nie name noem totdat ‘n amptelike persvrystelling geplaas is nie. Dis etiek. Ek en jy weet albei wie die koshuise en persone betrokke is.

En glo my, die saak oor die redakteur se politieke agenda het alles uit te waai met hoekom hy in die eerste plek geslaan is. Miskien weer ‘n Steve/Esmaré verskynsel? Plaas twak en ek gooi jou met koue tee. Okay, daai was eerder sensasioneel.

Urkie ·

Ja, nou Veritas, hoekom het die verslaggewer nie net gewag vir amptelike reaksie vanaf die PUK nie? Deadlines is mos belangriker as regverdigheid of akkuraatheid.

Veritas ·

Hahah! Omdat hy nie werk vir NWU nie, Urkie. As ‘n joernalis elke keer moet wag vir amptelike verklarings, gaan daar darem maar net lekker spin doctoring gedoen word. Genade maar jy is clueless oor die plek en rol van die media. Die joernalis is nie die woordvoerder van die NWU nie.

Urkie ·

Lees jy die Wapad Veritas? Ek sal vir jou talle berigte wys waar die Pers se Etiese Kode telkemale oortree word.

My beeld van joernalistiek is miskien in jou oë “verwronge”, maar as dit kom by persoonlike opinies of agendas, dan kan jy nei regverdig dat in berigte verskyn nie. Kevin was nooit so uitgesproke teen die PUK voordat hy nie SR gekry het nie. Hy’t nooit gepiep toe hy in die koshuis was nie. Hy’t lekker saam al sy koshuisvriende gekuier.

Urkie ·

Ek is wel bewus van spin doctoring Veritas, maar om nie eers die PUK se kommentaar te vra nie?

Nwu student ·

Alhoewel alles wat gebeur het baie sleg en onnodig was, stem ek saam dat daar eers ondersoek ingestel moet word oor Kevin du Plessis se houding en trots teenoor die kampus. Dit kan duidelik gesien word in die Wapad tydens sy termyn. Ek onthou hoe ek nie kon wag om die nuutste Wapad te lees tydens Piet Matipa se termyn nie, maar het die afgelope jaar sommer net verby gehou aangesien die koerant van voor tot agter amper net negatiewe berigte bevat het. Selfs positiewe berigte is met ‘n negatiewe of selfs bietjie sarkastiese aanslag benader. Die Wapad kantoor was op ‘n tyd vol wyn- en bierbottels en dalk as dit bietjie meer professioneel en positief was, sou daar meer belangstelling gewees het vir adverteerders wat die skuld probleem kon oplos. Braaf dalk, maar soms onnodig en onprofessioneel.

Trotse_PUK ·

Ek stem heeltemal saam met “NWU-student”. Ek het ook regtig daarna uitgesien om elke 2de Donderdag die wapad te kry en het uit my pad gegaan om een te gaan haal in die ss, maar deesdae raak ek net kwaad as ek die wapad lees. Dis net negatiewiteit en dit kom vir my dan voor asof die persone wat die berigte skryf niks trots het vir hul Universiteit nie, inteendeel dit kom vir my voor hul verpes die plek en wil net die negatiewe goed vir almal uitlig om die PUK in ‘n swak lig te stel. En ek stem saam dat ‘n koerant nie kan aangaan as hul R80 000 in die rooi is nie…. Dit maak logies nie sin nie…

Ver Van Ryn ·

Hou so aan Kevin! Die str@nt wat in die naam van “tradisie” gedoen word moet oop gespit word sodat die hele wêreld kan sien watse stink spuitpoep dit is! Die skimmel van die mensdom misbruik die woord “tradisie” om weg te kom met hulle sadistiese plesiere. Die PUK, en so ook enige ander akademiese instansie, is heel eerstens daar om AKADEMIESE redes.

Erich Goosen ·

Dit lyk my meer of die herrie gegaan het oor die laatnagkuiery by ‘n meisie as oor koshuistrots.

Nico Kruger ·

Ek is bang om kommentaar te lewer, want die meeste van die voorafgaande kommentaar het duidelik ‘n persoonlike aanval ten doel wat min met die saak te doen het. Ek was self 1ste jaar in in Veritas in 1986 en daardie tyd al was die slaan van 1ste jaars verbode. Daar was nog die slaan van 2dejaars die begin van die jaar, maar ons huisvader het dit daardie selfde jaar gestop. (Dit was regtig wreed gewees. Party ouens het tot 30 houe met ‘n tekkie gekry.) My enigeste keer wat ek geslaan was was met die inlywing van die HK. En dit was vir my geen aangename ervaring waaraan ek met “trots” terug dink nie. Ek kan nie glo slaan word nog steeds gedoen in koshuise nie. Nee wat, ons is mos darem al verby die middeleeue. En die ouens wat so graag slaan, watter genot kry julle daaruit.

NJ ·

Hoekom is dit nodig om iemand te slaan as hy ‘n prestasie bereik soos bv. HK-lid verkies of enigiets anders? Daar is geen nut in nie. As ek deur iemand geslaan word, moet ek beter voel as ‘n klomp ander ook geslaan word. Ek dink nie so nie. Doen eerder iets opbouends en positief as iemand so ‘n prestasie behaal.

Pukkie ·

‘n Geveg 4uur voor bourbons vind altyd plaas tussen ouens wat heeltemal te veel gedrink het… Dit was ‘n dronkgeveg, wat al so baie gebeur het in die studentedorp… hoekom moet die storie so opgeblaas word? Los die kinderagtige ouens dat hulle mekaar se neuse breek en los die kampus en die res van SA se universiteite uit dit uit.

Trotse oud Puk en Lid van Media ·

Pukkie, ek stem saam. Laat ‘n besope geveg tog nou maar net dit wees!!!!Daar is soveel belangriker dinge om oor te berig.”‘ ‘n Storm in ‘n brandewynglas!”

Attie ·

Hierdie storie het totaal en al handuit geruk. Kevin is geslaan, dis sleg, maar was die nou nodig? Ek was onder die indruk ouens kan goed intern uitsorteer sonder om na mamma media te hardloop. Nou is dit sommer oor ontgroening en die koshuis se kultus.

Johan van Zyl ·

Die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit se bestuur het met spyt kennis geneem van die geveg tussen twee studente in die vroeë oggendure van Sondag voor ‘n kuierplek in die dorp. As Universiteit spreek ons ons ten sterkste uit teen enige vorm van geweld (verbaal of fisies) en sal ferm in dié verband optree.
Die Universiteit is besig met interne ondersoek om vas te stel of ‘n betrokke koshuis en/of individue die universiteit en koshuis se goeie naam in oneer gebring het. Daar is ook ‘n privaat klag van aanranding by die polisie aanhangig gemaak. Vuisgevegte om geskille op te los is nie deel van die Universiteit se waardestelsel nie en behoort nie by leiers van môre nie.

Die Universiteit wil dit ook duidelik stel dat hy nie ten gunste is van enige negatiewe koshuistradisie, tradisies wat met vuisgevegte verdedig moet word of met intimidasie gepaardgaan nie. Ook dat ontgroeningspraktyke nie deel van die Universiteit se etos is of geduld sal word nie.

Die Universiteit het ook geen begeerte om die vryheid van spraak op die kampus te bekamp nie. Dit sal ongrondwetlik wees, teen alle waardes waarvoor universiteite staan indruis en kontra die opleiding wat universiteite aan joernalistieke studente verskaf. Die studentekoerant, Wapad, is ook nie gesluit nie. Hulle redaksie is net ingelig dat hulle eers uitstaande fakture moet inwin alvorens ‘n volgende koerant kan verskyn – dus goeie korporatiewe bestuur en deel van hulle opleiding. Indien hulle dit inwin, sal die Wapad weer verskyn.

Bogenoemde twee insidente het dus niks met mekaar te doen nie en is dit glad nie soos beweer word ‘n poging om die koerant te muilband nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.