Pukke sal met Valke saamwerk in verdrinking-ondersoek

Dr. Blade Nzimande. Foto: GCIS

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het die Valke versoek om ‘n nuwe ondersoek in te stel rakende die verdrinking van Thabang Makhoang by die Noordwes-Universiteit (NWU) verlede jaar.

Die universiteit het Donderdag reageer dat die afsterwe van Makhoang vir die raad van die universiteit, sowel as die hele universiteits-gemeenskap, ‘n tragedie was. “Elke jong lewe wat verlore gaan beteken een minder bousteen vir ons land en sy toekoms,” het dr. Theuns Eloff, vise-kanselier van NWU, in ʼn verklaring gesê. “Met Thabang se afsterwe in 2012 het Nzimande aangedui dat hy ‘n ondersoek wil loods, waarvoor die universiteit sy volle samewerking belowe het. Verder het die universiteit ook sy volle samewerking met die polisie se ondersoek gegee.”

Eloff sê die universiteit het ook sy eie onafhanklike ondersoek deur twee senior advokate, Vusi Pikoli SC en Lourens de Koning SC gelas. Die verslag van hierdie ondersoek is aan die adjunk-direkteur generaal van die departement van hoër onderwys gegee, waarvan ontvangs erken is. Verder het die universiteit vir publieke kennisname, die verslag op sy webwerf gepubliseer en is dit steeds beskikbaar.

“Die Universiteit is ook nie bewus van enige nuwe konkrete inligting wat met Thabang se dood verband hou, wat nog nie vantevore onafhanklik geverifieer is nie. Indien daar wel sulke inligting bestaan, ontvang die universiteit dit graag,” het hy gesê.

Die Universiteit wag vir die minister se amptelike kommunikasie oor hierdie nuwe ondersoek en sal graag met die Valke saamwerk.

Maroela Media het vroeër berig Nzimande het die Valke gevra om ondersoek in te stel nadat daar glo nuwe inligting aan die lig gekom het. Lees meer hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.