Pukke sê oor “koshuistrots”-aanval, ontgroening en die Wapad

Kevin du Plessis. Foto: Facebook

Kevin du Plessis. Foto: Facebook

Die kampuskoerant van NWU-pukke, Wapad, gaan nie gesluit word nie, het Johan van Zyl, die universiteit se woordvoerder aan Maroela Media bevestig.

ʼn Herrie het losbars nadat Kevin du Plessis (23), die voormalige redakteur van Wapad, Sondagoggend in die vroeë oggendure aangerand is, vermoedelik deur ʼn medestudent wat beweer het Du Plessis het nie “koshuistrots” nie. Die aanvaller is glo ʼn tweedejaarstudent wat ʼn inwoner van die Veritas-koshuis is. Hy het glo tydens die aanval geskreeu “ek wil niks hiervan in die Wapad lees nie”.

Du Plessis het egter die koerant se nuwe redakteur genader wat ten gunste was van ʼn storie. Du Plessis het Sondag ʼn klag van aanranding by die Potchefstroom-polisie teen die student aanhangig gemaak. Hy het ook ʼn interne grief by die kampus ingedien. Die student se naam mag nie genoem word alvorens die klag laat vaar of hy in die hof verskyn het nie.

“Ek wil nie vir die student moeilikheid maak nie. Ek wil net ʼn standpunt inneem teen die kwansuise ‘koshuistradisies’ wat by die studente indoktrineer word. Die ‘ontgroening-tradisies’ en die ‘koshuistrots’ word deur ouer studente op nuwe studente afgedwing, en ek wil dit ontbloot, want hulle word die slagoffers,” het Du Plessis gesê. Ná al die stappe gedoen is, het die universiteit se bestuur glo vir Wapad gesê daar is nie geld vir nog ʼn koerant nie, en hulle het glo ook geweier om die storie op die internet te publiseer.

Prof. Johannes Froneman, verbonde aan die NWU-Pukke se Skool vir Kommunikasiestudies, het Maandag sy mening oor kampusmediavryheid op Facebook gedeel. Hy het gesê Wapad is op die koop toe gestaak, waarskynlik tot die einde van die jaar, kwansuis omdat hulle R80 000 skuld. Hy het ook sy kommer oor vryheid van spraak op die kampus uitgespreek.

Van Zyl het aan Maroela Media gesê die universiteit se bestuur het met spyt kennis geneem van die geveg tussen twee studente in die vroeë oggendure van Sondag voor ‘n kuierplek in die dorp.

“As Universiteit spreek ons, ons ten sterkste uit teen enige vorm van geweld (verbaal of fisies) en sal ferm in dié verband optree.

“Die Universiteit is besig met ‘n interne ondersoek om vas te stel of ‘n betrokke koshuis en/of individue die universiteit en koshuis se goeie naam in oneer gebring het. Daar is ook ‘n privaat klag van aanranding by die polisie aanhangig gemaak. Vuisgevegte om geskille op te los is nie deel van die Universiteit se waardestelsel nie en behoort nie by leiers van môre nie,” het Van Zyl gesê.

Volgens Van Zyl wil die universiteit dit ook duidelik stel dat hy nie ten gunste is van enige negatiewe koshuistradisie, tradisies wat met vuisgevegte verdedig moet word of met intimidasie gepaardgaan nie. Ook dat ontgroeningspraktyke nie deel van die universiteit se etos is of geduld sal word nie.

“Die Universiteit het ook geen begeerte om die vryheid van spraak op die kampus te bekamp nie. Dit sal ongrondwetlik wees, indruis teen alle waardes waarvoor universiteite staan en kontra die opleiding wat universiteite aan joernalistieke studente verskaf.”

“Die studentekoerant, Wapad, is ook nie gesluit nie. Hulle redaksie is net ingelig dat hulle eers uitstaande fakture moet inwin alvorens ‘n volgende koerant kan verskyn – dus goeie korporatiewe bestuur en deel van hulle opleiding. Indien hulle dit inwin, sal die Wapad weer verskyn,” het Van Zyl bygevoeg.

Van Zyl het gesê die twee insidente het dus niks met mekaar te doen nie en is dit glad nie soos beweer word ‘n poging om die koerant te muilband nie.

Lees ook:
Puk-studentredakteur glo oor koshuistrots aangerand

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.