Pyl-hond het glo ander geteister

Die veghond wat geskiet is. Foto verskaf.

Die hond wat Woensdagoggend in Randfontein met ‘n pyl geskiet is, was glo ‘n rondloperhond wat pluimvee, ander honde en selfs perde in die gebied geteister het.

Maroela Media het Maandag met die ouers van die seun, wat die veghond (“pit bull terrier”) met ‘n pyl geskiet het, gesels. Volgens die seun se pa was hy reeds skrikkerig vir honde, aangesien hy ‘n paar jaar gelede gesien het hoe sy jonger boetie deur ‘n hond aangeval word. Sy jonger boetie het beserings in sy skouer, arm en been opgedoen.

Die seun, wie se naam weerhou word om sy identiteit te beskerm, is ‘n kranige boogskutter en is tans besig om vir die wêreldkampioenskap te oefen. Hy was die oggend omstreeks 06:30 voor skool besig om te oefen toe hy hoor hoe een van die buurmanne in die omgewing die hond verjaag. “Die volgende oomblik het die hond op hom en sy eie hond afgestorm,” het die seun se pa gesê. “Aangesien hy ‘n paar jaar gelede gesien het hoe sy jonger boetie deur ‘n vreemde hond aangeval en gebyt word, het hy geskiet.”

Die veghond het, nadat hy geskiet is, teruggehardloop huis toe. Die hond se eienaar het toe die seun en sy pa in kennis gestel dat die hond nog leef en hulle is dadelik met die hond na die veearts in Randfontein. Die pa het glo self die rekening by die veearts vereffen. Die veearts het met die eienaar kontak gemaak en die hond is toe na die Rant en Dal-dierehospitaal in Krugersdorp oorgeplaas.

Die pa van die seun voer egter aan dat daar moontlik met pyl gepeuter is voordat die foto’s, wat vroeër gepubliseer is, geneem is. “Die vere (“fletches”) van die pyl is wit, maar op die foto’s is dit vol bloed. Dit lyk ook of die pyl verkeerdom in die hond is, as mens kyk na die grootte van die wonde,” het hy gesê.

Die seun is glo in hegtenis geneem na die voorval toe die buurman ‘n saak by die polisie aanhangig gemaak is. Hy is egter kort daarna in sy ouers se sorg vrygelaat. Volgens sy ouers dien hy reeds hul straf uit. “Hy moet besef daar is gevolge vir sy dade, en hy is erg getraumatiseer deur die gebeure, veral nadat hy kommentaar op mediaberigte gelees het.”

Die hond sterk glo aan in die dierehospitaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Berita Drescher ·

Ek is n diereliefhebber maar wat soek die hond buite sy baas se eiendom? Die wet is duidelik oor rondloperhonde…….dit is nie die seun se skuld nie dis die baas van die hond se skuld dat dit gebeur het en dit kon n baie leliker ding afgegee het as die seun homself nie kon verdedig nie. Ek praat gladnie die daad goed nie ……. sorg dat jou dier op jou perseel bly en nie ander kan aanval nie. Ek het self n baie kwaai dier gehad en vir 13jr was dit ons verantwoordelikheid om toe te sien ten alle tye dat die hond nie kan uit en mense of ander diere aanval nie.

Hannes De Beer ·

Kla die eienaar aan. Sy hond bedreig mens en dier buite sy eiendom. Die seun het in selfverdediging opgetree.

Gerrie van Antwerpen ·

Die seun hoef vir geen dade te boet nie. As ‘n rondloper hond of hond op straat sonder halsband wat deur iemand beheer word op my afstorm sal ek dit ook skiet. Ek het al honde van kant gemaak wat my op straat wou aanval wanneer ek en my Jack Russel gaan stap. Rondloperhonde wat ‘n gevaar vir ander inhou is niemand se honde nie en moet verwyder word. Die seun het reg gedoen deur homself te beskerm. Geen wat gaan jou beskerm as jy dit nie self doen nie!

Paul ·

Ek stem 100% saam, kla die eienaar van die hond aan en laat hom betaal vir die trauma wat die seun deurmaak en sommer die polisie ook vir onregverdige inhegtenisneming. Die outjie moes net beter gekorrel het en die hond net daar vrek geskiet het. Ek het self ‘n kwaai dierasie in my erf om my te beskerm en ek is verantwoordelik vir hom om te sorg dat hy in die erf bly waar hy genoeg kos en water en ‘n ordentlike lêplek het. Indien hy selfs voor ‘n motor in die straat beland en doodgery word sal ek verantwoordelik gehou word vir die skade aan daardie motor.

Mike ·

Waar is almal wat die seun so gekruisig het in die vorige berig??? Is jul nou die lafaards of is jul bang vir Marlene. Ek vra maar net.???

Gerda ·

Diereliefhebber Berita ? Daar is ander maniere om probleem diere te hanteer. Dit is nie altyd so maklik om ‘n hond binne te hou nie, hulle is nie so dom soos party mense nie – as jy een gat toestop ontdek hulle ‘n ander uitkom plek. As die dier dan al so lank ‘n probleem is hoekom het die seun se ouers nog nie die DBV in kennis gestel nie. Dit wat hy gedoen het is wreed en ek hoop dat hy daarvoor gestraf word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.