R10 000 beloning vir vermiste Welkom-man

Tony Teixeira

ʼn Beloning van R10 000 is uitgeloof vir inligting wat daartoe kan lei dat die 47-jarige Tony Texeira van Welkom, opgespoor kan word.

Texeira en sy verloofde, Ilona Combrink, is verlede week Donderdag in die vroeë oggendure deur vier gewapende mans in hul huis in Naudéville aangeval. Die mans het gedreig om Texeira te skiet en het Combrink gedwing om die pinkodes van hul bankkaarte te oorhandig.

Die mans het hul bankkaarte, elektroniese goedere, juwele, drie selfone en kontant gesteel waarna hulle Texeira met ʼn vuurwapen in sy eie voertuig, ’n wit Soyat-bakkie, gedwing en weggejaag het. Die rowers het hom glo ontvoer as losprys vir die regte pinkodes vir die bankkaarte. Combrink is vasgebind en met ʼn kombers toegegooi. Sy kon loskom toe die rowers vlug en het hulp ontbied.

Texeira is ʼn diabeet en moet sesuurliks insulien kry, anders kan hy sterf of in ʼn koma gaan.

Kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die Vrystaatse polisie, sê hulle is steeds met ʼn uitgebreide soektog besig na Texeira. “Hy is nog nie opgespoor nie. Die polisie ondersoek elke moontlike leidraad. Die vier rowers is ook nog nie opgespoor nie,” het Thakeng Maandag aan Maroela Media gesê.

Thakeng het ook aan Maroela Media gesê die ondersoek is in ʼn sensitiewe stadium en die polisie kan nie kommentaar lewer oor gerugte dat Texeira ʼn groot bedrag geld geërf het en dit moontlik ʼn motief vir die aanval kon wees nie.

Mense met meer inligting kan ao. Dylan Saayman by 084 687 3014 skakel. Die bakkie se registrasienommer is DLR 364 FS en daar is ’n plakker van die Portugese landsvlag op die agterkap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.