R10 000 vir Orania se nuwe volkslied

orania-betonletters

Orania in die Noord-Kaap. (Foto: verskaf)

Inwoners van die dorp Orania in die Noord-Kaap wil hul strewe na volslae selfstandigheid ʼn stappie verder vat deur ʼn volkslied vir hul tuiste te laat skep.

Die Orania Kunsteraad (OKeR) het vandeesweek aangekondig dat hy ʼn kompetisie gaan fasiliteer vir digters en komponiste om ʼn volkslied vir Orania te skep. Die persone wat die wen-lirieke skryf en die wen-melodie komponeer wen elk R10 000.

“As ʼn selfstandige Afrikanergemeenskap beskik Orania reeds oor simbole soos die Klein Reus, die Orania-vlag en die ora wat as geldeenheid in die gemeenskap gebruik word,” sê Anje Boshoff, direksielied van OKeR.

“As ʼn bevestiging van Orania se strewe na selfstandigheid word daar nou ook gesoek na ʼn lied wat tydens openbare geleenthede gesing kan word.”

Dié lied sal soos vele ander bestaande simbole ook ʼn simbool word wat eie is aan Orania.

“Wanneer ʼn mens die komponering van ʼn volkslied bespreek, word dit baie gou voor die hand liggend dat enige mooi lied nie sal deug nie,” sê Boshoff.

“Daarom is dit belangrik dat die lied die hart en siel van Orania moet vasvang en terselfdertyd ook ʼn tydlose meesterstuk wees wat deur groot groepe mense gesing kan word.”

Die kompetisie sal in twee rondtes plaasvind – ʼn liriekkompetisie en ʼn melodiekompetisie. Rondte een sal slegs vir inskrywings van lirieke wees en die sluitingsdatum hiervoor is 1 Mei. Sodra die beste liriekinskrywing gekies word, sal dit aan komponiste beskikbaar gestel word om ʼn melodie te skryf. Dié deel van die kompetisie sal vanaf Augustus vanjaar tot en met April volgende jaar duur.

Teen 10 Oktober 2024 sal die wenner van die beste lirieke en die wenner van die beste melodie aan die publiek bekend gemaak word.

Boshoff sê inwoners en nie-inwoners van Orania kan inskryf vir die kompetisie en sy moedig deelnemers aan om veral inspirasie te put uit “Die Stem van Suid-Afrika”, “Flower of Scotland” en “Ireland’s Call”.

Die Orania Beweging het die afgelope 30 jaar groot vordering gemaak in die strewe na selfstandigheid.

Verlede jaar het die dorp sy eie rioolaanleg binne 18 maande met ʼn begroting van Φ8 miljoen (R8 miljoen) gebou. Die aanleg is boonop onafhanklik van Eskom.

Hoewel Orania nog nie heeltemal onafhanklik is van Eskom se kragverskaffing nie, wek hy wel al sy eie krag by sy sonplaas op. Dié krag word versprei na die gemeenskap se kragnetwerk wat deur die dorpsraad onderhou word.

Die dorp beplan ook om “ʼn moderne Afrikaner-stad te bou waar ons steeds ons Afrikaner-waardes kan uitleef”.

  • Jy kan hier vir die volksliedkompetisie inskryf en verdere bepalings en voorwaardes nagaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

TruthDealer ·

Ek bewonder die mense van Orania. Maar wees net versigtig en moenie te veel aandag trek nie. Julle is nog steeds binne die grense van SA. Remain “under the radar”. Ek gaan niks verder sê nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Maak dit net ‘n opgewekte mars wat die bloed laat bruis. Nie ‘n treurige deuntjie nie.

Henk ·

Ja nee asb tog , dis wat ek ook sou sê ! Net nie n begrafnis lied wat klink of dit die einde van Orania is nie !

Shakespeare ·

As die ANC/EFF nie hulle jaloerse en rassistiese vet vingertjies daarin steek nie gaan Oranië baie suksesvol ontwikkel en hoë hoogtes bereik.

Andre ·

Skryf n lekker lied wat Orania se sukses benadruk.
En vertel ook sommer vir die Weskaap om af te stig.

Harley Davidson ·

Die stem klink goed verander net suid afrika na orania

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.