R10 miljoen aan voormalige Atlantis Forge-werknemers

Nic Arnold, hoof van Solidariteit Regsdienste, oorhandig ‘n tjek aan Terrence Jaftha, ‘n voormalige werknemer. Foto: Antoinette le Roux

Die vakbond Solidariteit het vandag die eerste deel van nagenoeg R10 miljoen se preferente eise aan voormalige werknemers van die gelikwideerde Atlantis Forge oorhandig.

Atlantis Forge, ’n maatskappy wat vragmotoronderdele vervaardig het, is in April 2009 in voorlopige likwidasie geplaas en vroeg in Februarie 2010 finaal gelikwideer nadat die maatskappy nie meer in die destydse ekonomiese klimaat en veral weens die wêreldwye finansiële ineenstorting as ’n winsgewende maatskappy in die motorbedryf kon handel dryf nie.

Volgens Nic Arnold, hoof van Solidariteit Regsdienste, is die uitbetalings ’n welkome verligting voor Kersfees vir die 380 voormalige werknemers van die maatskappy. “Solidariteit het destyds ’n voedingskema begin nadat die maatskappy in likwidasie geplaas is om die nood te help verlig. Intussen het die likwidateurs verskeie pogings aangewend om met voornemende kopers te onderhandel, maar geen aanvaarbare aanbod is ooit gemaak nie. Pogings om die maatskappy se bates aan ’n derde party te verkoop en om die aanleg operasioneel te hou, het ook misluk. Die verkoop van die roerende bates aan die Nywerheidsontwikkelingskorporasie het 21c in die rand opgelewer wat nou aan die werknemers betaal is vir hul preferente deel van die eis ingevolge die Insolvensiewet.”

Arnold sê die preferente eise word ingevolge artikel 98(A) van die Insolvensiewet soos volg bereken. “Betaling van salarisse of lone vir ’n tydperk van hoogstens drie maande met ’n maksimum van R12 000; betaling van verlofvoordele tot ’n maksimum van R4 000; betaling verskuldig ten opsigte van enige ander vorm van betaalde afwesigheid vir ’n tydperk van hoogstens drie maande voor die datum van sekwestrasie van die boedel tot ’n maksimum van R4 000 en betaling van ’n skeidingsloon verskuldig aan die werknemer tot ’n maksimum van R12 000.”

Volgens Arnold word enige eise wat die bogenoemde berekenings oorskry as konkurrente eise geag. Die uitbetaling van konkurrente eise kan eers geskied sodra verdere uitstaande skulde van onder meer debiteure ingevorder is.

Arnold sê Solidariteit was deurgaans by die likwidasieproses betrokke. “Die vakbond het die eerste aansoek om likwidasie, wat op 18 Februarie 2009 in die hooggeregshof in Bloemfontein toegestaan is, teengestaan aangesien Solidariteit van mening was dat die hof nie jurisdiksie oor die aansoek gehad het nie. Die aansoek is daarna by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien, waarna die maatskappy op 16 April 2009 weer voorlopig in likwidasie geplaas is en ’n finale likwidasiebevel later uitgereik is.”

Solidariteit doen ’n beroep op voormalige werknemers wat nie vandag, 26 September 2012, hul tjeks kom afhaal het nie om met die vakbond se Bellville-kantoor in verbinding te tree by 021 946 4440/ 4418.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.